Die mal vrou langs-aan

Sondag-oggend ly ek die twee groot swart perde na hulle kamp aan die onderkant van die plot toe, dis net na ses in die oggend, die windjie koel, meeste mense slaap nog.  Die perde runnik en ek sien dat hulle geskrik het vir die bure se honde.  Ek wonder wat doen die honde aan die kant van die hek, hulle is mos veronderstel om agter die hek te wees.  Ek kyk op en sien dat daar wel iemand saam met hulle is.  By nadere betragting sien ek dat die vrou geklee is in haar pajamas, met ‘n japon bo-oor.  Elke nou en dan buk sy om iets op te tel en in ‘n kruiwa te gooi.  ‘n Kruiwa?  Net na ses?  Dis darem baie ongewoon.

Ek probeer om nie ooglopend te staar nie, maar ek kan myself nie help nie.  Sy is besig om klippe op te tel en die kruiwa raak al hoe voller.  Ek kan sien dat sy nog nie eers hare gekam het nie, dit staan in alle windrigtings.  Nadat die perde veilig in die kamp is, begin ek terugstap, huis se kant toe.  ‘n Koppie koffie sal darem nou goed afgaan.  Die vrou langs-aan groet toe sy my sien.  Ek kan haar nou behoorlik sien.  Dis vir my duidelik dat sy gehuil het, en nog steeds huil.  Party mense kan so elegant, saggies huil, met ‘n traan wat oor die wang biggel.  My buurvrou is nie een van hulle nie.  Haar hele lyf ruk soos sy snik en kort-kort vee sy haar neus sommer met haar japon se mou af.  Nee, sy is nie ‘n elegante huiler nie.

Terwyl ek terugstap wonder ek wat met haar aangaan en ek kom tot die gevolgtrekking dat daar net een verduideliking kan wees vir huilend klippe optel, in jou nag-gewaad, ses-uur op ‘n Sondag-oggend: die vrou moet mal wees.  Natuurlik wonder ek ook of dit vir ons enige bedreiging inhou, diè mal buurvrou?

Sy naam is Charles, hy bly op die plot langs ons en dis wat hy moes gedink het Sondag-oggend toe hy my sien.  Ek is die mal vrou langs-aan, wat net nie meer kon stilsit nie en iets moes doen.  Ek het gaan klippe optel om die ou bad mee te vul, ons wil ‘n kruie tuin begin.

Ek kon nie gister by die veearts uitkom nie, maar dit klink my dit gaan ok met my Tummy

 

18 thoughts on “Die mal vrou langs-aan

  1. Eers het ek kliphard gewonder oor diè vrou wat jy oor vertel! En toe is dit sowaar jy self! Klippe optel en in ń kruiwa gooi so vroeg op ń Sondag…mmmm. Die prentjie wat jy skets moes komies gewees het, maar jou hartseer en trane is nie. Daar is nog hoop vir Tummy, Positief, ek bid saam met jou.

    Liked by 1 person

  2. Eish…vir ‘n oomblik het ek jou nou so jammer gekry…dat jy nou nog met Tummy se pyn ‘n mal buurvrou ook moet trotseer!! Ek sug sommer van verligting toe ek dit raaklees….ons weet gelukkig jy is nie mal nie, net freakin baie hartseer…en dis okay…

    Liked by 1 person

  3. Jy het dit nou uitstekend verwoord! Amper gedink dis regtig jou buurvrou wat klippe optel om haar man mee te gooi! Ai ek huil saam met jou oor Tummy. Ek hoop hy trek deur. Sterkte en ‘n drukkie vir jou.

    Liked by 1 person

  4. Toe ek die opskrif sien, het ek nogal gedink jy verwys na jouself – jy het mos so ‘n droë humorsin! Toe sus jy my met jou vertelling en ai, ek kry die arme mal vrou so jammer – net om met ‘n skok agter te kom dis toe tog die hele tyd eintlik jyself. Jy is so oorspronklik – in plaas van klippe kou, tel jy hulle op :heart:

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s