Trap die briek

2020 het met ‘n bang afgeskop.  Vir my in finansies is dit altyd sleg, want ek moet op die 2de werk en dan nie net sommer gewone maand-einde nie, nee dis jaareinde, so klomp ekstra goed moet gedoen word.  Ek weet dat ek ten minste een nag deur die nag sal moet werk, so sommer vinnig is die heerlike vakansie vergete en my lyf alweer moeg.  Maandag was dit dan toe nou so en na ek gedeurnag het, het ek net na 8 in die oggend by die huis gekom.  Die krag was af van die vorige dag af, ‘n boom het op die lyne geval, so die slapery in die hitte was moeilik.  Ek het so 10 uur eers aan die slaap geraak en net voor 1 weer wakker geword, sopnat gesweet, gelukkig het die krag ondertussen weer aangkom.

Op ons plotjie is daar mos nou al heelparty bokke en laat laas jaar het ons besluit om ‘n deel van die plot om te ploeg en gras te plant vir weiding.  Elke keer wanneer die bure se werkers verby stap, lag hulle vir ons werkers wat klippe optel.  Wel mens kan dit ook nie klippe noem nie, dis rotse, party sommer so meter by ‘n meter groot.  Elke keer wanneer Grim met die 1954 trekker daar inklim (met die ripper agter-aan), maak hy meer en meer rotse los, wat die werkers dan teen die heining pak.  Om julle ‘n idee te gee, so 100m van die heining is nou al ‘n halfmeter hoog gepak met klippe.  Ons wou vreeslik graag die gras geplant het voor ons vertrek het met vakansie, maar toe reën dit mos katte en honde, so Grim kon nie ploeg nie.  Laas week was hy by die huis, so ek kon nie wag dat hy begin ploeg nie, maar weer-eens het daar iets voorgeval.  Gister kon hy nie andrs nie, daar moes geploeg word.

Ek was besig om aand-ete aanmekaar te slaan in die kombuis en kon die trekker se klank duidelik hoor.  Na ‘n half-uur, raak dit stil en kort voor lank hoor ek vir Grim mompel buite die huis, ek ignoreer.  Die trekker word weer gestart en vir nog ‘n half-uur hoor ek hom weer.  En toe is daar weer stilte.  Grim storm in die kombuis in en sê ek moet kom help, die trekker het gebreek.  Nou wat ek daaraan kan doen gaan my verstand te bowe, maar blykbaar gaan ons hom sleep.  Daar gekom word ek vertel dat ek die trekker moet stuur en hy sal die Hilux ry.  Ek is doodbang om agter die stuurwiel van ‘n motor te sit wat gesleep word, wat nog van die trekker wat ek geen idee het hoe om te bestuur nie, maar nou ja wanneer Grim iets in sy kop gekry het, is daar geen redenasie nie.

Dit het ok gegaan oor die geploegde land en die rotse in ons pad, selfs deur die hekke het ek darem nie die trekker gestamp nie.  Die probleem begin toe ons moet stop.  Grim skree by die venster uit dat ek die briek moet trap en ek skree terug dat ek nie weet watter van die pedale die briek is nie.  Die linker een skree hy terug.  Ek trap die briek vir ‘n vale, maar die trekker bly beweeg – agtertoe.  Toe sê hy dat ek hom in rat moet sit, nou ja ek het ook nie geweet hoe om dit te doen nie, so hy spring uit die bakkie uit, sit die trekker in rat en dit alles terwyl die bakkie en trekker saam nog steeds stadig agteruit loop.  Ek besef dat ek die trekker nou maar self sal moet reverse tot waar Grim hom wil hê en so met bewende hande en voete en ‘n hart wat honderd myl ‘n uur klop, kry ek dit darem reg.  Die trekker staan nou weer op gelyk grond, wat beteken hy staan stil.  Bewerig klim ek af.  Grim gee my so skewe kyk en sê dat hy dit verkeerd gehad het, die briek sit aan die regterkant, so ek het heeltyd die koppelaar getrap, pleks van die briek.  Ek gaan hom nog lank spot oor die een.

Vanoggend dink ek toe by myself:  Hoeveel kere in my lewe het ek al die briek moes trap, maar eintlik die koppelaar getrap en die situasie moeiliker gemaak?  Hoeveel kere het ek al deur mis kommunikasie die situasie erger gemaak?  Hoeveel kere het ek al op ander mense se instruksies gereageer, eerder as om vir myself te dink dat ‘n trekker eintlik net ‘n voertuig is en die koppelaar en brieke moet mos aan dieselfde kante sit as ‘n motor s’n.  En dan die laaste besef – dis tyd dat ek die brieke in my lewe moet kry en begin trap, maar eers moet ek seker maak watter goed het brieke nodig en watter moet petrol kry.

11 thoughts on “Trap die briek

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s