Bang

Ek dink gedurende die tyd, is die oorgrote meerderheid van ons bang.  Ek is definitief een van hulle, gewoonlik nie ‘n bang haar op my kop nie, het ek ‘n permanente hol gevoel op my maag.  Dat ons leef in ‘n tyd van onsekerheid, is vir seker die waarheid.

Ek is nie soseer bang dat ek die virus gaan kry nie, statistieke bewys dat die kanse omtrent 100% is dat ek dit wel gaan kry, statistieke sê ook dat omdat ek gesond is, ek ‘n 99.6% kans het om te oorleef.  Ek is bang dat ek ander mense sal aansteek wat nie so gesond soos ek is nie, veral ouer mense of diegene met onderliggende probleme.  Banger nog dat ek vir Grim gaan aansteek, daar is geen statistieke oor die virus se effek op HIV positiewe mense nie, selfs al is hy gesonder as ek, wie weet wat gaan gebeur.

Ek is die bangste vir die langtermyn effek op die ekonomie.  Suid-Afrika is net nie in die posisie om mense wat hulle inkomste verloor a.g.v. die siekte, te kan akkomodeer nie.  My 2 dogters is albei in die skoonheids-industrie en hulle het die afgelope 3 weke sowat 90% kanselasies gehad.  Dalk is dit nog ok vir Z, wat darem ‘n man het, maar D, wat huidiglik besig is om van haar man te skei, trek swaar.  Altwee van hulle het ook baie klein dogtertjies, so met die skole wat gesluit het, moet hulle ook nog probeer om iemand te kry om na die kinders om te sien, wanneer hulle die 10% kliente wat nie gekanselleer het nie, help.  Waar gaan dit eindig?

Ons maatskappy is doodstil, hulle stuur nuusbriewe uit oor hoe om die virus te stop, maar daar is geen hand-reinigers by enige deure beskikbaar nie.  Die seep-dispensers in die toilette werk maar so-so (soos altyd) en die handoekrol-papier is alewig klaar.  Geen planne om deur-handvatsels of hyser-knoppies te steriliseer nie.  Verder nog, geen kommunikasie oor wat om te doen met die vrouens wat by die huis moet bly om na hulle kinders om te sien nie, geen kommunikasie oor siek-verlof, spesiale-verlof of werk van die huis af nie.  So dit is business as usual, vergaderings word gereël, emails gestuur en alles gaan aan soos altyd.  Dit is nou terwyl daar 5 gevalle in Midstream gister bevestig is en helfte van die exco-span in Midstream bly.

Persoonlik hoes en nies ek al vir 2 weke, maar het geen kontak gehad met oorsese besoekers nie, so ek het seker nie die virus nie, of dalk het ek dit.  Ek weet nie wat my posisie is t.o.v. verlof en by die huis werk nie, so ek kom werk elke dag.  Dag vir dag kan ek sien hoe die verkeer op die paaie al hoe minder raak.  Na Maandag se paniek-aankope, bly ek ook uit die winkels uit weg.  Mens kan in elk geval nêrens hier ‘n masker te koop kry nie, so dalk is dit tyd dat ek vir my ‘n banadana kry en soos ‘n boef lyk of ‘n serpie om die kop.  Ek het net geen idee of die goed enigsins help nie.

Hier is interesante statistieke ivm tuisgemaakte maskers https://smartairfilters.com/en/blog/diy-homemade-mask-protect-virus-coronavirus/

en ‘n masker patroon https://www.craftpassion.com/face-mask-sewing-pattern/

Dit beteken dat ek die naaimasjien uit die kas sal moet haal vir die eerste keer in jare.  Wonder of ek ‘n paar blinkers kan bysit?

4 thoughts on “Bang

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s