Towerinne word Goue Vroue

In die VVVTT Hoofstuk 14 – Die brief stuur Vuurvliegie ‘n brief en 2 boeke aan die Towerinne. Een van die boeke is “1000 Places to see before you die” en Towerinne is vasberade om elkeen en nog meer te gaan sien in die VVVTT, toerstories kan op die skakel gelees word. Maar daar is ‘n paar van die Towerinne wat elke keer teruggaan na Rebusfontein , hulle verandering tot Goue vroue kan jy hier vind.

Woordnoot het vir ons die allerpragtigste meent geskep in Rebusfontein, in die middel van die huisies. Voor die skepping is die huisies en sommer die hele Rebusfontein deeglig gefog (met ‘n k), maar dankietog party van ons het teruggekom, die stof van die wandelpad afgeskud, ons huisies behoorlik skoongemaak (party Towerinne het hulle hele huis sommer so tjoef tjaf herbou) en ‘n nuwe begin in ons verbeeldingsplek (Rebusfontein) gemaak. Myself nie vreeslik groot op skoonmaak nie, het net so vinnige gedagte gegee aan hoe dit moet lyk en is toe vort om die Meent te gaan verken.

Siende dat al die ander nog werskaf of piekniek hou, is dit net ek wat in die meent ronddwaal. Ek wil so rukkie op die bankie sit om my asem terug te kry (Coronamouna het my ook goed opgefog (met ‘n k)) So moeg is ek, dat ek die bankie skoon missit, my hele lewe flits voor my oë, met my laaste gedagte, voor ek die grond tref, dat die gras darem heerlik groen en welig is. Ek val en ek val, tyd vir honderde ander gedagtes. Ek maak my oë oop en sien dat pleks van kaplaks op my kwas gaan sit, is ek besig om deur ‘n tonnel te val. Soos ek val word ek kleiner en kleiner. Ek land op my kwas op ‘n vloer in ‘n grot. Een kant staan ‘n botteltjie waarop geskryf staan “Neem groot slukke, dan’s dit vinniger klaar”, reg langs die bottel staan ‘n koppiekoek met versiering wat spel “Eet my (ek belowe ek maak nie vet nie)” Wat sal ek doen? Met die botteltjie in die een hand en die koppiekoek in die ander, gewaar ek ‘n haas met ‘n kuil. Sowaar ek moes my kop êrens gestamp het in die val. Om die hallusinasies te stop, drink ek die hele botteltjie klaar. En ek krimp en krimp en krimp. Skielik sien ek ‘n kwaaie mier op my afgestorm kom

Wraggies, ek het genoeg van gevegte gehad, met hierdie mier is ek nie lus vir baklei nie, vinnig hap ek die koek. En ek groei en groei, die groei-pyne is amper erger as die gewone hittegloede wat ek beleef. Ek sien die haas wink vir my en vinnig klim ek by die gat uit, vol blye afwagting om terug te wees in Rebusfontein. Maar wat ek sien, is ‘n vreemde landskap, waar alles net ‘n klein bietjie verkeerd lyk, onderstebo voëls vlieg rond in ‘n snaakse pienk lug. Paadjies loop in sirkels tot terug by die begin. Sekerlik droom ek?

Die onderstebo voëls spat uitmekaar, ek draai terug en skielik staan Woordnoot reg langs my. Ons is so bly om mekaar te sien, dat ek eers nie agterkom iets is anders nie. Toe ons uiteindelik klaar gebabbel het oor die vreemde manier om hier uit te kom in die nòg vreemder plek, kyk ek vir die eerste keer mooi na haar.

Wat gaan met jou aan?, vra ek. Sy kyk na my met vraagtekens in haar oë en ek fluister, “Jou ore…..”. Nou ja, ordentlike mense maak nie aanmerkings oor ander mense se voorkoms nie, maar ek kon myself nie help nie, Woordnoot het ewe skielik goue ore

Ek trek aan dit want dit lyk soos ‘n juweelstuk, maar die Eina!! wat sy skree verseker my dat dit haar ore is wat goud is en geen juweelstuk nie. Raar maar waar.

Saam met die haas, loop ons in ‘n paadjie af, hy verduidelik dat hulle hulp nodig het met die rooi koningin “Sy bly skree: Af met sy kop”, sê hy. Woornoot kyk hom skeef aan, ek kan sien dat sy hieroor baie diep dink. “Ons het julle hulp dringend nodig” verduidelik mnr Haas met die topkeil. Weer kan ek sien dat sy iets wil sê, maar nie kan nie.

(Woordnoot): Toe die haas sê “Af met sy kop”, hoor ek dit maar wat ek eintlik hoor is dat die rooi koningin ‘n baie onsekere vrou is, wat eintlik net probeer om haar koningkryk te behou deur almal wat sy as ‘n bedreiging sien, se koppe af te laat kap. Ek weet ons kan haar help deur met haar vriende te maak en haar selfbeeld op te bou. Ek probeer dit vir die ander sê maar die woorde wil nie uit nie. Ek sal haar self moet gaan help. Haas wat sê dat hulle ons hulp nodig het, hoor ek as “Ek weet dat die koningin my gevra het om enige indringers direk na haar te bring, as ek hierdie 2 swape soontoe vat, sal sy hulle koppe afkap en dan is ons veilig vir ‘n rukkie” Probeer soos ek wil, kan ek nie vir Positief waarsku nie.

Skielik is daar weer ‘n lawaai en een vir een kom die ander Towerinne in die vreemde plek aan. Hulle het kom kyk wat ons doen, maar elkeen van hulle het of is iets goud. In hierdie Vreemde Plek sal hulle bekendstaan as die Goue Vroue, gelouter en gesuiwer en vir seker nie Klatergoud nie.

Woordnoot sal verder vertel

Hierdie hoofstuk vorm deel van die Towerinne/Goue Vroue se avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en  onverklaarbaar. 
As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/18c42a9034594a66af50994043145ea6

23 thoughts on “Towerinne word Goue Vroue

  1. Ek moet natuurlik nou vra, is daar so ore mode? want ek het vandag amper my nek omgedraai in die kar. ‘n Meisie het by my verbygestap, met gepunte ore wat by haar hare uitsteek. Ek ek wou nie glo dat ore sulke punte kan hê nie. Ek het toe gekyk vir die band of iets oor die kop, maar daar was niks. En nou wonder ek of sy sulke oorbelle aanngehad het. Ek het egter geen goud gesien nie. En nou kom lees ek hier. Hoe weird is dit?

    Liked by 2 people

  2. Positief, ek sit op my uitskopstoel onder ń kombers en ruk soos ek lag. Waar het jy al die tyd hierdie wonderlike verbeelding van jou weggesteek? Af in ń gat tot in ń grot, toe ń haas, en nou Ria met goue ore. Hoe op die aarde gaan ons kan byhou!

    Liked by 3 people

Lewer kommentaar