Weer 21

So vra my boetie vanoggend of ek vandag 70 is, my antwoord, nee 70 – 49, so dus 21. Alweer 21. Lekker. Aan die begin van my grootmens-lewe met sterre in my oë en ‘n huppel in my stap. Vandag op 21 gaan ek gevra word om te trou. Ek gaan sjampanje drink en ‘n sleutel kry. Daarna gaan ons in ‘n piepklein staatshuis bly met pers kombuiskaste. Daar gaan ek leer om doeke te was met my hand, want ons kan nie papierdoeke bekostig nie. Ons gaan net een blou Toyota karretjie hê om mee te ry en die wêreld gaan maklik wees. Later gaan ons ons eerste huis koop en in verwondering staan oor hoe groot die tuin is, twee dogtertjies gaan uit hierdie huis hulle eerste skooldag beleef. My man werk by die gevangenis en ek by DairyBelle, so ek leer my kinders om te sê, pa is in die tronk en ma is die koei, wanneer iemand vra watse werk hulle ouers doen.

Nog later gaan my man se krieket-afrigter een dag vir my vra om vir hom my CV te gee en ons gaan Lichtenburg toe trek. Daar gaan ons vir 2 jaar bly en ek gaan my MBA klaarmaak met 2 baie klein kinders gaan dit nogal moeilik gaan.

Na 2 jaar gaan ons Gauteng toe trek en die twee dogtertjies en hulle ma gaan leer hoe om elke Saterdag mall toe te gaan. Vir die eerste keer in my lewe kan ek koop wat ek wil in ‘n wye verskeidenheid winkels.

Fast forward nog ‘n paar jaar en ek bly nou in ‘n ander huis saam met ‘n nuwe man. Die kinders is een klaar met skool, die ander in matriek. Die tyd swoep verby.

Nog ‘n paar ekstra plooie en rolletjies en nou bly ek op ‘n plot, tussen bokke en hoenders en werk van die huis af, na ‘n virus wat die wêreld verander het.

Hoe sal ek lyk oor nog 21 jaar wanneer ek regtig 70 is? Wie weet. Vandag het ek net vandag en ek is 21 met 28 jaar se rente. Dankbaar vir waar ek is en vir wie ek is. Dankbaar vir die verjaarsdag boodskappe en mal oor die eerste oproep vanoggend waar 2 klein dogtertjies met deurmekaar hare vir hulle ouma Happy Birthday sing.

14 thoughts on “Weer 21

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s