Parmantige pers bus avonture

Ons is ń groep vroue, die goue vroue, elkeen van ons het ń stukkie goud in haar. Ons flans woorde bymekaar en maak stories, ons elkeen het ń huisie in Rebusfontein. Dit is ons realiteit, weg van realiteit. Jy kan kom saam skryf, of andersins saam met ons, ons avonture beleef. Volg ons volgende verhaal op die onderstaande skakel.

https://fresh.inlinkz.com/party/58bfda52c1464dd6bd728872e5955344

Op pad tjoekie toe, dis waarheen ons gaan! Nie eers in ons Pers bus nie, nee agter in ‘n vangwa. Ons het niks verkeerd gedoen (die keer) nie, maar is soos gewoonlik weer kniediep in die mis, sonder gumbootse. Waar is Camilla wanneer ons haar nodig het, sy kon nog altyd met polisie-ouens onderhandel, maar nee sy hou seker nog steeds heuning-maan, so ons is op onsselwers aangewese.

Die vangwa kom met ‘n ruk tot stilstand voor die Bredasdorp tronk. “Hulle kan ons nie sommer so tronk toe vat nie, daar moet sekerlik eers ‘n verhoor wees” sê die immer praktiese Christa. Almal kyk na die mooi klip-gebou wat eerder na ‘n museum lyk. Tannie Frannie se mond val oop, maar geen woord kom uit nie, sy wys met haar vinger na die klok se kant toe. Skielik praat almal gelyk, die arme veiligheids-polisieman dink nog hy sluit die deur oop, toe is almal uit, storm sommer bo-oor hom. Voordat hy ‘n woord kan uiter of sy rollie kon uitpluk is ons almal bo-op die dak van die tronk.

Die hele klomp polisiemanne staan ons verslae en nakyk, want daar vlieg die bus met ‘n swierige draai met ons weg. Pedro aan die stuur.

Blykbaar het een van die landbouvroue vir Pedro vertel van die gerugte van aliens wat in ‘n pers bus rondvlieg en dat die veiligheids-polisie na hulle soek. Hy het sy slimfoon hoeka op die bus vergeet en kon vinnig daar uitkom met sy Findmyphone toep. Hy het dadelik agter die stuur ingespring, maar die magiese bus het sommer vanself geweet waar die goues is. So ‘n ge-oeeee en ge-aaaa het jy lanklaas gehoor. Pedro is al baie dinge genoem, maar hierdie is die eerste keer wat hy as ‘n ridder in ‘n pers bus uitgemaak word, sy kop draai van al die stories wat hy sal kan vertel. Probleem is dat niemand hom gaan glo nie.

Nou maar toe dames, hierdie gaan ‘n lang rit / vlug wees, ons moet wegkom uit die Kaap en daar na die Valies se wêreld gaan. Maak toe julle oë…….

Na sowat 5 minute voel ons die bus land, my oë blink want hier is ons in my valley. Hennopsrivier is die langste rivier in Gauteng, 94km in totaal en begin in Kempton park (Olifantspruit). Net voor Hartebeespoortdam vloei dit in die Krokodilrivier in en die word later die Limpopo. Die gebied kry sy naam van die plaas Hennopsrivier wat vernoem is na Helena Hennop, die eienaar in die vyftigs. Huidiglik is dit een van die mees besoedelde riviere in Suid-Afrika en verskeie pogings word aangewend om die rivier te probeer skoon maak, maar oor-populasie en gebrekkige riool-sisteme waar die rivier ontstaan maak dat die rivier nie skoon bly nie.

Terwyl ek so lekker vertel sien ek een na die ander koppe knik, die opwinding van die afgelope dae eis sy tol en vir geskiedenis is hulle nie lus nie. “OK goues kom ons gaan besoek vir Simon. Simon is die eienaar van Druid’s garden, hier groei hulle dagga en magic mushrooms”, skielik is almal wakker. “Ons is wraggies nie lus vir enige verdere onderonsie met die polisie nie”, laat Seegogga van haar hoor. Gou keer ek, Druid’s garden is ook een van die enigste wettige gelisensiëerde verspreiders van alles CBD, meeste van hulle produk word op kontrak hier gegroei en uitgevoer na ander lande. Simon is natuurlik ‘n karakter wat net hippie broek/rokke dra en almal wat daar werk is ook ‘n bietjie strange. Die goues het elkeen n klein geskenk-pakkie gekry wat eintlik net vir celebs bedoel is en daar gaan ons weer.

Volgende stop ons by Hennops Hiking trail, gelukkig is dit ‘n week-dag, want naweke is daar verkeers-opeenhopings soos mense die staproete besoek om weg te kom uit die stad. Niemand is egter lus om te loop nie, so ons beweeg aan. Middag-ete word genuttig by Casa Nieto’s (ons local pub), Annetjie en Neels is plat op die aarde mense waar heerlike kos teen spotgoedkoop pryse geniet word en natuurlik moes ons almal ‘n melktertjie, lemon meringue en ‘n nickerball drink. (drink ja, dis shooters)

Volgende besoek ons Sidecar, hier word ons verwelkom deur Richard en geneem op ‘n motorfiets toer, party van ons ry en ander passasiers, ons ry darem net in systroompies (die water is skoner)

Na ‘n propvol dag ontspan ons heerlik met spa behandelings by Mangwanani Spa en sommige van ons gebruik so bietjie van Druid’s se geskenkpak. Salig

Tannie Frannie sal verder skryf

11 thoughts on “Parmantige pers bus avonture

  1. Dankie tog! ons is gered! Ek wil graag die skinderstories hoor wat hier op ons dorpie gaan uitbroei nadat hy deur die Goue Vroue getref is! mmmm ….’n druid geskenkpakkie???

    Like

  2. Hierdie was nou heerlik, Positief. Eers kom ons skotvry uit die tronk uit en toe neem jy ons op die heerlikste uitstappies. Daardie geskenkpakkie van my word defnitief dadelik oopgemaak!

    Like

  3. Pedro is my hero! En die geskenkpakkie! Joeheeeeeee! Hellooooooo! Ek kan eintlik nie glo dat dit ons nog nie in die moeilikheid gebring het nie, want ons voel soos celebs, ons lyk soos celebs, ons maak soos celebs, ons dink ons is celebs … ag, en saam met drinkbare melktert, lemon meringue en nickerballs met ‘n skop en al is ons beslis celebs!
    Veels geluk, Positief, meesterlik soos altyd.

    Liked by 2 people

Lewer kommentaar op appeltjie Kanselleer antwoord