Maande laas

Het ek geblog en vandag skryf ek sommer twee. Die lewe raak mos besig en dan los mens die goeters wat vir jou die lekkerste is. Ek is maande agter met lees en met skryf nog meer so. Min lus vir werk, lees ek vandag die een na die ander blogs, van Woordnoot wie se muse sonder haar rondtoer, Una wat gaan lugballon ry, Toorts op die fietsie en nog sommer ‘n klomp ander. Hier en daar lewer ek ‘n kommentaartjie, maar meestal geniet ek net die opvang. Ek wonder wat in die ander se lewens aangaan en hoekom hulle nie blog nie. Net dalkies ook te besig?

Dis lekker om sommer net weer gedagtes neer te skryf. Ons is terug geroep werk toe, maar met die nuwe variant weer huis toe gestuur. Nou is dit die laaste paar dae voordat baie kollegas met verlof gaan, ek self neem net die paar dae tussen Kersfees en Nuwe jaar verlof, sal maar volgende jaar êrens weggaan. Dit is nou ook moeilik om saam met Grim weg te breek, daar is al amper 1500 kuikens wat aandag soek, ons moet ‘n plan maak want om nooit weer saam vakansie te kan hou nie is aaklig.

Volgende week is ons 3 jaar op die plot, soms voel dit soos 30, ander kere soos gister. Ek moet sê dat ek steeds bevoorreg en dankbaar voel om hier te kan wees, dink nie ek sal weer in die dorp kan bly nie.

Ek hekel ook nog steeds, 3 badkamers het matjies en ek het net vandag klaar gemaak met die sitkamer se mat. Hoekom ek altyd die moeilikste goed op aarde moet kies, sal net ek weet.

So bietjie meer oor daai sitkamer mat. Blykbaar noem hulle dit tapeserie-hekel, ek het oral na ‘n patroon gesoek wat by die Afrika-tema van die sitkamer pas. Ten einde laas, het ek ‘n foto geneem van die motief wat onder-aan die gordyne is en dit op ‘n program genaamd Stitchfiddle gelaai. Die program het die prentjie na steke verander, nie perfek nie, maar goed genoeg. Ek het toe van die blokkies (grafiek) se kleure verander en die “patroon” uitgedruk. Dit het nogal ekstra kopkrap gevat toe ek agterkom dat ek nie genoeg swart het vir die hele agtergrond nie. Daarna het die hekelry begin. Omdat daar so baie en gereelde kleurveranderinge gebeur, moes ek so elke 5 rye die koekspul ontrafel. Die mat is uit t-hemp wol gehekel en is honderd steke x 120 rye. Op die ou einde was dit so swaar dat ek nogal gesukkel het elke draaislag, die voltooide produk weeg so 10kg. Dit het my omtrent 50 ure geneem om dit te hekel, gelukkig is my telvermoë nog ok, ek moes net 1 ry uittrek omdat ek van die verkeerde kant af begin het.

Hier probeer ek hekel met Bliksempie wat my nie vir ‘n oomblik uitlos nie, hy het gereeld die wol gebyt en sy gunsteling was om op die ander bank bo-op die wol te gaan lê, dan sukkel ek my dood om die wol onder hom deur te trek en moenie dink hy sal skuif nie. Dinsdag is hy twee maande oud, ek weet nie hoe lank ons hom nog in die huis gaan hou nie, maar hy skree soos ‘n baba wanneer ons hom vit langer as ‘n minuut alleen los.

Nou is my koppie leeg geskryf en Bliksempie skree vir melk. Hopelik at dit nie weer so lank voor ek weer blog nie.

15 thoughts on “Maande laas

  1. 1500 kuikens? Hoenderkuikens? Genade!
    Ja, daar sal ‘n plan moet kom dat jy en jou Grim weer saam kan vakansie hou. Dis noodsaaklik. En onlekker om dit nie te doen nie.
    Jou matte. O, jou matte! Ek haal my hoed vir jou af. T-yarn is nie die gemaklikste ding om mee te hekel nie en jy gaan ontwerp ‘n tapisserie mat! Nee suster, laat ek ‘n oomblik regop staan uit respek! Ek dink jy moet ‘n klomp vroue leer om dit te hekel, dit kan ‘n groot wenner word waarvoor mense baie geld sal betaal. Dit sal ‘n mooi muurbehangsel ook wees.

    Liked by 1 person

  2. Hierdie tyd van die jaar is almal se skryf- en leeslus maar minder, dink ek. Ek lees ook minder blogs op die oomblik. Kom nie by boeke uit nie. Is wel besig om vir mense hulle boeke te help redigeer om dit as e-boeke uit te gee.

    Liked by 1 person

      1. Talent? Ek weet nie. Dis iets wat oor my pad gekom het. Mense wat my nader en vra hoe hulle hulle skryfwerk op ‘n manier ‘daar buite’ kan kry. Dink nie hulle wil laat druk nie, net ‘n manier wat hulle dit dalk vir iemand anders kan stuur. Nou ja, ek hét mos noual ‘n e-boek of 2 vir die Goues gehelp doen dan bied ek aan om te help …

        Liked by 1 person

      2. Die een is ‘n ware verhaal wat eintlik al klaar is. Ek wag nog net vir die finale okay en ek is nou besig met ‘n kortverhaalbundel. Baie oulike stories wat die oom geskryf het.

        Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s