Harley (die ander een)

Eerste keer in meer as ‘n jaar wat ek op my eie bike ry. Arme Grim moes die 200m grondpad wat gehawend lyk met my bike ry terwyl ek stap, want daai hol kol op my maag wil ek nie eers vir iemand beskryf nie. Dan vat dit my ‘n half-uur voordat ek daai aha-diep-inasem vryheid ervaar en dan is ons amper by ons bestemming. So dan ry hy maar die bike, stap terug en gaan haal sy eie. Ons het darem by Beestekraal-stasie aangekom, heerlik middag-ete geniet en weer huiswaarts gekeer.

Vandag is ek styf, my rug is seer, maar die gevoel van vryheid op my eie bike sal my vir ‘n hele rukkie bybly.

Grim wag tot ek praat voor hy ‘n foto neem, eish

Harley

My naam is Harley en nee ek is nie ‘n brul-fiets nie, ek is ‘n beertjie

Ek is 13 jaar oud en is in een van daai Build-a-bear workshops gebou. Eers het ek behoort aan ‘n twee-jarige dogtertjie, maar iewers langs die pad het ek haar verloor en in haar pappa se huis beland. Van plek tot plek het ek saam met hom getrek. Vir so 6 jaar het ek saam met hom en sy nuwe vrou in hulle huis gebly, ek het eenkant op die spieël-tafel gesit en gewonder of iemand ooit weer met my gaan speel. My pappa het uit die huis getrek en toe het ek alleen agtergebly by die vrou. Sy het nooit eers 2 keer na my gekyk nie, so gewoond dat ek op haar tafel sit en niks sê nie.

Ek is in ‘n boks geprop en het weer verhuis, die keer na ‘n plot toe. Daar het ek in ‘n studeer-kamer beland tussen allerhande motorfietsies en potrette. My stiefma se nuwe man het nie eers oor my gewonder nie want stiefma ry mos die motorfiets met dieselfde naam as ek.

Laas Desember kom stiefma se kleinkinders vir ‘n hele week kuier. Een van die twee sien my raak en besluit om met my te speel vir die eerste keer in 14 jaar is ek weer in mens-arms. Sy draai my en swaai my en in die aande slaap ek snoesig in haar arms. Op ‘n dag druk sy aan my handjie en ek begin te praat:

Die kinders lag te heerlik en my stiefma moet wag tot hulle weg is om mooi te hoor wat ek sê: “I love you and mommy loves you too”, is my woorde in my oorspronklike eienaartjie se stem.

Nou wonder my stiefma hoe my pappa my net so kon vergeet toe hy uittrek? Het hy geweet dat ek praat in die stem van sy dogter, wat hy nog nooit sedertdien weer gesien het nie? Sou hy vir Harley wou terughê, of sal die herrineringe te seer wees? Meeste van alles wonder my stiefma watse batterye die beer gebruik……..

Tweeling

Na aanleiding van Woordnoot se blog oor Boogskutters, raak ek nuuskierig oor wat die sterre oor my te sê het. Een van my vriendinne, wat presies 1 dag, in ouderdom, van my verskil, leef vir die goeters, so sy vertel my gereeld hoe ons twee dieselfde is. Self het ek nog nooit vreeslike waarde hieraan geheg nie.

Nou maak ek maar ‘n lysie, met verwysings daarby en natuurlik my eie kommentaar

Noudat ek weer kyk is ‘n hele klompie van die persoonlikheid-eienskappe op my van toepassing, veral die gou verveeld raak. Ek lees raak dat Mercurius beide Gemini en Virgo se planeet is, wat ons altwee goeie kommunikasie-vermoëns gee, blykbaar is tweelinge net meer uitgesproke, terwyl Virgo eerder intern prosesseer. Die Cosmopolitan artikel het die meeste raakgevat, maar al die goed moet mens maar met ‘n knippie sout vat

Kinnerlik

Ek word wakker en dink vir een of ander rede vêr terug. Ons was kinders in Stilfontein, ‘n myndorp in die Wes-Transvaal. Ek was 10 toe my ouers geskei is en kort daarna het my pa en sy nuwe vrou Rand toe getrek, so ons 3 kinders en my ma het alleen agter gebly. My ma het nooit vir die myne gewerk nie, sy het vir ‘n olie-mpy gewerk wat verbonde was aan die myn. Sy het dit op ‘n manier reggekry dat ons teen ‘n verminderde huur in ‘n mynhuis kon bly (nou wel nie die R10 wat myners betaal het nie). Wanneer dit Kers-tyd word is ons nooit deel gewees van die kinders wat na die myn se Kers-partytjie genooi is nie.

Sommige jare het my ma se boesem-vriendin (wat die mynbestuurder se sekretaresse was) dit wel bewimpel dat ons 3-tjies ook die kersparty kon bywoon. Ek onthou glad nie enige van die persente nie, net die kinnerlike vreeugde van kaartjies ruil vir roomys. Dan ook nie sommer enige roomys nie, nee bakkie-roomys met hout lepeltjies. Die ry op ‘n miniatuur treintjie was nog ‘n hoogtepunt en natuurlik die deel wees van die dag, die gevoel van behoort, want al ons maatjies was daar. Kinnelike blydskap en opgewondenheid.

Wonder ek wanneer laas ek daai selfde kinnerlike blydskap ervaar het? My wens vir elkeen hierdie jaar is dat ons daai kinnerlike blydskap van ‘n bakkie-roomys sommer ‘n paar keer hierdie jaar sal voel.

Maande laas

Het ek geblog en vandag skryf ek sommer twee. Die lewe raak mos besig en dan los mens die goeters wat vir jou die lekkerste is. Ek is maande agter met lees en met skryf nog meer so. Min lus vir werk, lees ek vandag die een na die ander blogs, van Woordnoot wie se muse sonder haar rondtoer, Una wat gaan lugballon ry, Toorts op die fietsie en nog sommer ‘n klomp ander. Hier en daar lewer ek ‘n kommentaartjie, maar meestal geniet ek net die opvang. Ek wonder wat in die ander se lewens aangaan en hoekom hulle nie blog nie. Net dalkies ook te besig?

Dis lekker om sommer net weer gedagtes neer te skryf. Ons is terug geroep werk toe, maar met die nuwe variant weer huis toe gestuur. Nou is dit die laaste paar dae voordat baie kollegas met verlof gaan, ek self neem net die paar dae tussen Kersfees en Nuwe jaar verlof, sal maar volgende jaar êrens weggaan. Dit is nou ook moeilik om saam met Grim weg te breek, daar is al amper 1500 kuikens wat aandag soek, ons moet ‘n plan maak want om nooit weer saam vakansie te kan hou nie is aaklig.

Volgende week is ons 3 jaar op die plot, soms voel dit soos 30, ander kere soos gister. Ek moet sê dat ek steeds bevoorreg en dankbaar voel om hier te kan wees, dink nie ek sal weer in die dorp kan bly nie.

Ek hekel ook nog steeds, 3 badkamers het matjies en ek het net vandag klaar gemaak met die sitkamer se mat. Hoekom ek altyd die moeilikste goed op aarde moet kies, sal net ek weet.

So bietjie meer oor daai sitkamer mat. Blykbaar noem hulle dit tapeserie-hekel, ek het oral na ‘n patroon gesoek wat by die Afrika-tema van die sitkamer pas. Ten einde laas, het ek ‘n foto geneem van die motief wat onder-aan die gordyne is en dit op ‘n program genaamd Stitchfiddle gelaai. Die program het die prentjie na steke verander, nie perfek nie, maar goed genoeg. Ek het toe van die blokkies (grafiek) se kleure verander en die “patroon” uitgedruk. Dit het nogal ekstra kopkrap gevat toe ek agterkom dat ek nie genoeg swart het vir die hele agtergrond nie. Daarna het die hekelry begin. Omdat daar so baie en gereelde kleurveranderinge gebeur, moes ek so elke 5 rye die koekspul ontrafel. Die mat is uit t-hemp wol gehekel en is honderd steke x 120 rye. Op die ou einde was dit so swaar dat ek nogal gesukkel het elke draaislag, die voltooide produk weeg so 10kg. Dit het my omtrent 50 ure geneem om dit te hekel, gelukkig is my telvermoë nog ok, ek moes net 1 ry uittrek omdat ek van die verkeerde kant af begin het.

Hier probeer ek hekel met Bliksempie wat my nie vir ‘n oomblik uitlos nie, hy het gereeld die wol gebyt en sy gunsteling was om op die ander bank bo-op die wol te gaan lê, dan sukkel ek my dood om die wol onder hom deur te trek en moenie dink hy sal skuif nie. Dinsdag is hy twee maande oud, ek weet nie hoe lank ons hom nog in die huis gaan hou nie, maar hy skree soos ‘n baba wanneer ons hom vit langer as ‘n minuut alleen los.

Nou is my koppie leeg geskryf en Bliksempie skree vir melk. Hopelik at dit nie weer so lank voor ek weer blog nie.

Parmantige pers bus avonture

Ons is ń groep vroue, die goue vroue, elkeen van ons het ń stukkie goud in haar. Ons flans woorde bymekaar en maak stories, ons elkeen het ń huisie in Rebusfontein. Dit is ons realiteit, weg van realiteit. Jy kan kom saam skryf, of andersins saam met ons, ons avonture beleef. Volg ons volgende verhaal op die onderstaande skakel.

https://fresh.inlinkz.com/party/58bfda52c1464dd6bd728872e5955344

Op pad tjoekie toe, dis waarheen ons gaan! Nie eers in ons Pers bus nie, nee agter in ‘n vangwa. Ons het niks verkeerd gedoen (die keer) nie, maar is soos gewoonlik weer kniediep in die mis, sonder gumbootse. Waar is Camilla wanneer ons haar nodig het, sy kon nog altyd met polisie-ouens onderhandel, maar nee sy hou seker nog steeds heuning-maan, so ons is op onsselwers aangewese.

Die vangwa kom met ‘n ruk tot stilstand voor die Bredasdorp tronk. “Hulle kan ons nie sommer so tronk toe vat nie, daar moet sekerlik eers ‘n verhoor wees” sê die immer praktiese Christa. Almal kyk na die mooi klip-gebou wat eerder na ‘n museum lyk. Tannie Frannie se mond val oop, maar geen woord kom uit nie, sy wys met haar vinger na die klok se kant toe. Skielik praat almal gelyk, die arme veiligheids-polisieman dink nog hy sluit die deur oop, toe is almal uit, storm sommer bo-oor hom. Voordat hy ‘n woord kan uiter of sy rollie kon uitpluk is ons almal bo-op die dak van die tronk.

Die hele klomp polisiemanne staan ons verslae en nakyk, want daar vlieg die bus met ‘n swierige draai met ons weg. Pedro aan die stuur.

Blykbaar het een van die landbouvroue vir Pedro vertel van die gerugte van aliens wat in ‘n pers bus rondvlieg en dat die veiligheids-polisie na hulle soek. Hy het sy slimfoon hoeka op die bus vergeet en kon vinnig daar uitkom met sy Findmyphone toep. Hy het dadelik agter die stuur ingespring, maar die magiese bus het sommer vanself geweet waar die goues is. So ‘n ge-oeeee en ge-aaaa het jy lanklaas gehoor. Pedro is al baie dinge genoem, maar hierdie is die eerste keer wat hy as ‘n ridder in ‘n pers bus uitgemaak word, sy kop draai van al die stories wat hy sal kan vertel. Probleem is dat niemand hom gaan glo nie.

Nou maar toe dames, hierdie gaan ‘n lang rit / vlug wees, ons moet wegkom uit die Kaap en daar na die Valies se wêreld gaan. Maak toe julle oë…….

Na sowat 5 minute voel ons die bus land, my oë blink want hier is ons in my valley. Hennopsrivier is die langste rivier in Gauteng, 94km in totaal en begin in Kempton park (Olifantspruit). Net voor Hartebeespoortdam vloei dit in die Krokodilrivier in en die word later die Limpopo. Die gebied kry sy naam van die plaas Hennopsrivier wat vernoem is na Helena Hennop, die eienaar in die vyftigs. Huidiglik is dit een van die mees besoedelde riviere in Suid-Afrika en verskeie pogings word aangewend om die rivier te probeer skoon maak, maar oor-populasie en gebrekkige riool-sisteme waar die rivier ontstaan maak dat die rivier nie skoon bly nie.

Terwyl ek so lekker vertel sien ek een na die ander koppe knik, die opwinding van die afgelope dae eis sy tol en vir geskiedenis is hulle nie lus nie. “OK goues kom ons gaan besoek vir Simon. Simon is die eienaar van Druid’s garden, hier groei hulle dagga en magic mushrooms”, skielik is almal wakker. “Ons is wraggies nie lus vir enige verdere onderonsie met die polisie nie”, laat Seegogga van haar hoor. Gou keer ek, Druid’s garden is ook een van die enigste wettige gelisensiëerde verspreiders van alles CBD, meeste van hulle produk word op kontrak hier gegroei en uitgevoer na ander lande. Simon is natuurlik ‘n karakter wat net hippie broek/rokke dra en almal wat daar werk is ook ‘n bietjie strange. Die goues het elkeen n klein geskenk-pakkie gekry wat eintlik net vir celebs bedoel is en daar gaan ons weer.

Volgende stop ons by Hennops Hiking trail, gelukkig is dit ‘n week-dag, want naweke is daar verkeers-opeenhopings soos mense die staproete besoek om weg te kom uit die stad. Niemand is egter lus om te loop nie, so ons beweeg aan. Middag-ete word genuttig by Casa Nieto’s (ons local pub), Annetjie en Neels is plat op die aarde mense waar heerlike kos teen spotgoedkoop pryse geniet word en natuurlik moes ons almal ‘n melktertjie, lemon meringue en ‘n nickerball drink. (drink ja, dis shooters)

Volgende besoek ons Sidecar, hier word ons verwelkom deur Richard en geneem op ‘n motorfiets toer, party van ons ry en ander passasiers, ons ry darem net in systroompies (die water is skoner)

Na ‘n propvol dag ontspan ons heerlik met spa behandelings by Mangwanani Spa en sommige van ons gebruik so bietjie van Druid’s se geskenkpak. Salig

Tannie Frannie sal verder skryf

Die hemel weet

Laat ek skryf voordat ek iemand aanrand, spesifiek my ma. Hoogs gefrustreerd is hoe ek my huidige gemoedstoestand akkuraat kan opsom. Vier dae sonder sonskyn, beteken ons wolk-shedding vier hoogty, die generator loop heeldag sodat die bietjie son wat deur die wolke kom, ons deur die nag kan dra. Nou ja, so hardloop die diesel leeg in die generator en ek is nie sterk genoeg om die Jerry-kan te lig nie, soek die werker. Generator loop weer en sal my ma nie vir my kom vertel: “Die foon werk nie, ons sal hom moet invat…” No shit Sherlock, dis wat ek 10 minute terug vir haar gesê het.

Elke 2 jaar dieselfde storie, my ma en kinders kry nuwe kontrakfone wat goedgunstige Gerda (ek) betaal. Elke 2 jaar werk die kinders se fone, maar my ma s’n het ‘n probleem. Die jaar het Slimmie (ook ek) gedink laat ek die fone kry terwyl my ma hier kuier, laat ek die kinders kry om die foon op te stel, dan is daar minder kans dat ek elke dag vir ten minste 2 weke ‘n oproep kry. Nie gewerk nie. Die flippen foon wil nie Whatsapp voicenotes stuur nie. Ek het nou al gegoogleloer, settings oor ingestel, die hele whatsapp afgehaal en weer geinstalleer, niks. NIKS. As laaste uitweg probeer ek op die voice recorder opneem en wraggies dit werk ook nie, dit beteken iets is fout met die mikrofoon. Sê vir my ma ek sal die foon môre invat. 10 Minute later, terwyl ek sukkel met die generator, kom vertel sy dieselfde vir my.

Die hemel weet….

10 Minute

That’s Amore! Europa hier kom ons! Die Goue Vroue is op pad om te gaan troue hou in Italië – Lorenzo en Camilla se troue!

Volg gerus ons storie:

https://fresh.inlinkz.com/party/7e01efcc06e4463da97c16ec33eb9429

“Camilla, nee. 10 Minute is mos nie genoeg nie….”, Una probeer nog keer, maar Camilla se mond het so weerbarstige streep en sy antwoord: “Wel dis al wat julle het, nou is daaqr net 8 minute oor”. 15 Goue Vroue spat uitmekaar om binne die aangewese tyd iets te vind om die rooi rok te betower. Almal moet verskillend lyk, maar almal moet dieselfde rok dra. Hoe gaan ons dit regkry?

Appeltjie kry eerste haar oplossing, ‘n blom om die soom eenkant te lig en ‘n vereserp.

.

Sonell het soveel gewig verloor dat sy net blomme koop en soos ‘n prinses in die rooi rok lyk

Seegogga vind haar oplossing, sy kry ‘n serp wat sy om haar middel gaan dra soos ‘n ware sigeneunerin met laprose by die cleavage

Toorts is nie links nie, sy vind die mooiste rooiste juwele om die rok wat haar (sy is die enigste) behoorlik pas verder op te dollie

Una vind ‘n serp, grys met blomme, sy is nog nie seker wat sy presies met die serp gaan doen nie, maar sy koop hom vinnig genoeg

San kyk verwese na al die goed wat op die mark gekoop word en wens sy het dit eerste raak gesien

Carien het met Una se hulp van die rooi rok ‘n harem broek gemaak, nou moet sy net gou iets aan die hare doen

Woordnoot koop ‘n ragfyn swart Bolero wat sy bo-oor die rooi rok dra

Aalsie glimlag in haar mou, sy weet dat Appeltjie eintlik ‘n kantrok wou hê, maar sy het die perfekte kantskepping gekry om oor die rooi rok te dra

Christa was nog altyd vlytig met ‘n naald en gare, maar daar is nie nou tyd om iets te maak nie. Sy kan arem ook goeie handewerk raaksien, so sy koop die lieflikste kant baadjie

Ora bekyk die malle hardlopery net so van die kant af en gryp ‘n hoed van ‘n rak af.

Trommeltjie kan nog nie glo ons is nie meer in 1803 nie, sy sien ‘n outydse winkel en koop dadelik ‘n korset om die rooi rok se lae hals weg te steek

Okei ouens wie moet nog iets kry? Ekmyself se arms is stokflou na die lamp optellery so sy het besluit om eerder vir ‘n 10 minuut massering te gaan. Kameel is die “moeder” van die bruid, Camilla het haar uitrusting saamgebring. Tannie Frannie was so besig om te betaal vir al die bykomstighede dat haar hande vol broodkrummels is en sy self niks gekry het nie. Ek was nog nooit in staat om ‘n besluit te maak in 10 minute nie, so ek staan leë hande.

Die 10 minute is verby en nou moet daar van elkeen ‘n foto geneem word, wat later bymekaar gesit gaan word, sodat dit soos ‘n groepfoto lyk. Die van ons wat niks het nie moet maar leen by die ander. Camilla het darem haar rooi stilettos ook saam gebring.

Ek weet nie hoe sy die foto reggekry het nie, maar ek kan ons goue vroue wraggies nie herken nie

Na die foto-nemery moet ons terug hotel toe en wag vir die bussie om ons na die troue te neem. Ons kyk almal na mekaar…. Wag ‘n bietjie, niemand het nou meer die rooi rok nie en ons klere is vuil en geskeur na die grot, moet ons nou so by die troue opdaag? Camilla se instruksies was duidelik, “Die bussie is hier oor 5 minute en as een van julle nie daarop is nie, bly sy agter”

Geheue straat

Saterdag sit ek op my alie in die huis, besig om gordyne op te hang en dit voel wrintiewaar soos dejavu. Hier was ek mos al gewees? So 20+ jare terug in ons eerste huis besig om gordyne op te hang. Die ding is net ek kan dit nie onthou nie, nou maak ek maar die storie op.

Twee mense, eintlik nog jonk getroud, met 2 klein kindertjies koop hulle eerste huis. Die 4 slaapkamer huis is eintlik te groot vir hulle paar meubels, maar met die hoop van jonkwees en die vertroue in hulleself en die Vader, koop hulle hom nog steeds. Die huis het ‘n anderste gevoel as die huurhuise waaraan hulle gewoond is, ‘n gevoel van luuksheid, ‘n gevoel van tuis kom. Die tuin is vol lieflike groot bome, die swembad is groot en blou en die huis se vertrekke is lekker ruim, ‘n regte leefhuis. Die hele familie help om meubels aan te ry en alhoewel party van die vertrekke nog te leeg is, word orals gordyne gehang. Drome word in die huis gedroom, drome van kinders wat groot word in die platteland, drome van gelukkig wees. Oudste gaan graad een toe in die skool wat net ‘n paar blokke weg is, leeslesse en huiswerk word gedoen en mamma begin hier aan haar MBA studeer.

Dan gebeur die lewe en die jong gesin verhuis na Lichtenburg en daarna selfs verder na Centurion. Die huis word uitverhuur. Eintlik wil ons die huis verkoop, maar dis ons eerste huis, met sentimentele waarde. Nog jare verloop en die kinders is altwee klaar met skool, ondertussen het die drome van gelukkig wees uitmekaar gespat en mamma en pappa is geskei. Mamma kry die huis in die egskeiding en verhuur steeds uit. Sy kom minder en minder daar uit en soos almal weet vêr van jou goed, naby aan jou skade. Op ‘n dag toe nog ‘n stel huurders die huis verder verwoes het, besluit sy om die huis eerder te verkoop.

Daar is egter ‘n groot probleem. Oorkant die huis was die ou inry-teater, later net ‘n stuk veld. Toe mamma haar oë uitvee is die grond geoormerk vir lae-koste behuising. Niemand wil meer in die straat bly nie, die huis staan leeg. Die munisipaliteit in die dorp is heeltemal bankrot, so vullis word nie meer verwyder nie, die oop stuk grond word nou ‘n ashoop. Krag toevoer s problematies en daar is niemand wat gou kan gaan kyk wanneer die alarm nie werk nie a.g.v. geen krag nie.

Oor die langnaweek in September word daar in die huis ingebreek. Kragdrade uit die dak, vensterknippe, krane, alle muurproppe en ligskakelaars word gesteel. Selfs die alarmstelsel word gevat. Mamma moet gou speel om ‘n wag in die hande te kry want die versekering sê daar sal geen dekking wees vir verdere inbrake sonder ‘n alarm of ‘n wag nie.

So het ek toe laas Saterdag gaan gordyne hang vir die tweede keer in my eerste huis, net sodat dit lyk asof daar iemand bly. En gehuil oor verlore drome.

Ek wil soos sy wees

Siende dat ons vier was, siende dat ons almal uit verskillende generasies kom, ek in my veertigs (net-net), Woestynkind in haar vyftigs, Una in haar sestigs en tannie Frannie in haar sewentigs, het ek baie om na te streef.

Ek wil soos Woestynkind wees, lief vir die natuur, kan stap vir myle, neem die beste fotos onder die son. Maar ek wil ook bietjie van haar persoonlikheid hê, sy is deur diep waters, maar onwrikbaar in haar geloof in ons Vader, sy skroom nie om haar sê te sê nie, maar nooit om seer te maak nie. Haar ongelooflike liefde vir haar kinders, maar ook haar gewillendheid om op te staan vir wat reg is, maak van haar ‘n persoon wat ek hoop om altyd aan my kant te hê.

Ek wil soos Una wees, sy probeer so hard om nee te sê, maar voor sy haar kan kry het haar omgee-hart reeds ja gesê. Sy sal haar laaste sent geld gee om iemand anders te help. Sy weet hoe om ‘n partytjie te hou al is dit net 4 vrouens en selfs haar “bad” fotos is so mooi dat dit nie op die internet gelos kan word nie. Ek sal oorlog toe kan gaan saam met haar.

Ek wil soos tannie Frannie wees. ‘n Fyne dame wat met ‘n vonkel in haar oog die dag aandurf. Sy skroom nie om teen die meerderheid te gaan nie, op te kom vir iemand wat volgens die ander dit nie verdien nie. Sy sien net die mooi in alle mense raak. Ek hoop ons kan vir ewig vriende bly.

Ek wil soos ek wees. Iemand wat kan grawe en ‘n plan beraam, wat net soms in die kleinste manier vir ander kan help. Daai een wat luiddrugtig kan lag en hardop kan vloek. Jy weet altyd waar jy met my staan.