Briewe aan my pa

Gister (of dalk eergister) kry ek ‘n whatsapp van my pa se vriendin.  Sy kontak my steeds so nou en dan, wanneer sy verlang na ou Vale, soos sy hom genoem het, of met spesiale geleenthede.  Dis nou amper al 2 jaar sedert my pa se onverwagte sterwe en ek vang myself nog gereeld dat ek die foon optel om net gou te bel en dan besef dat ‘n mens nie hemel toe kan bel nie.  Soos ek al vantevore gesê het, het ek en hy maar ‘n moeilike verhouding gehad, maar tog in later jare kon ons met mekaar praat, meestal oor DIY tipe goeters.  As ek toe geweet het, wat ek vandag weet, sou ek oor ander dinge en alle dinge met hom wou gesels, nie net so bo-langs soos ons manier maar was nie.  So ek het besluit om vir hom te skryf, dalk as ek my gedagtes op papier sit, kom daar klaarheid.  Hier gaan ons:

Liewe pa

Ons het ‘n plot gekoop.  Moenie lag nie, ok lag dan nou maar eers klaar, dan kan ons weer aangaan.

Kom ons probeer weer.  Ons het ‘n plot gekoop en soos pa weet het ek nie as kind enige mense geken wat op ‘n plaas gebly het nie, geen van ons familie of vriende  het plase of plotte gehad nie.  So dis maar ‘n vreemde besluit gewees.  Eintlik het dit begin met die honde, gesamentlik het ek en Grim 9 gehad en as ons saam wou intrek, moes ons hulle akkomodeer.  Eendag toe ek en hy oor ons drome praat vir die toekoms, sê hy dat hy graag op sy erf in De Rust sou wou gaan bly, maar dat daardie erf ook te klein sal wees vir die 9.  Ek kom toe met die voorstel dat ons dan vir iets groter moet soek, maar in daai omgewing, ek kan mos “commute”.

Ons het oral gekyk in die Karoo, want die vereiste het gegroei van ‘n plek groot genoeg vir 9 honde, na ‘n plek wat vir Grim en my ‘n inkomste kon bied.  Daar was die pub in Calitzdorp wat ons op ‘n stadium wou koop, maar niks wou vlot nie.  Ons wou nog steeds saam intrek, so ons het toe nader aan my werk begin rondkyk.  Ondertussen het Grim ook kontrak-werk gekry, wat die vereiste vir ‘n inkomste bietjie minder gemaak het.

Ons het weer-eens lank en hard gesoek en uiteindelik op hierdie plot besluit.  Groot genoeg, maar nie te groot nie.  Die huis is leefbaar en daar is ‘n uitsig.  Ons moes net so hier en daar iets verander of regmaak, sodat ons regtig lekker kon leef.  Hier-en-daar het natuurlik verander in ‘n 8 maande projek, maar dis mos hoe pa my ken?

Gereeld vra mense vir ons of ons nie bang is op die plot nie, ek is seker pa sal ook wil weet.  Een van die eerste dinge wat ons gedoen het in die 8 maande projek, is om die lendelam heining wat om die plot was, te vervang, daar was darem nog altyd ‘n elektriese heining rondom die huis.  Die elektriese heining is tempramenteel en werk ook net wanneer hy wil, so dit was ‘n goeie idee om ‘n beter heining om te sit.  Ons het al in die eerste week gesorg dat ons ‘n radio kry en Grim is deel van die patrollie-span.  Die gemeenskap werk goed saam om te sorg dat die mense so veilig as moontlik bly.  Bygesê, ek ken hier meer van my bure as ooit vantevore in die stad.

Omdat Grim geen pensioen het nie en myne te min is om na ons altwee te kyk, het ons besef dat ons steeds iets moet doen vir ‘n addisionele inkomste.  Grim se niggie, wat in Zimbabwe bly, boer met skape, so ons het begin dink aan lewende hawe om die gate toe te stop.  Ons het by ‘n paar mense gehoor bokke is makliker as skape, so dis toe wat ons doen.  Natuurlik weet nie een van ons veel nie, so oom google moet help.  Ons koop hier en daar bokke aan en daar gaat ons.  Sjoe, ek het nooit besef hoe baie werk dit is nie, maar met trial en error is ons darem nou aan die gang.

Onlangs het ek op een van die boerbok-groepe op Vuisboek (hulle bestaan regtig, ek belowe) op ‘n boer afgekom wat sy hele trop wil verkoop.  Die diere is van ‘n beter gehalte as ons bokke (ek het ook nie geweet van kudde (slag) diere en stoet-diere toe ons weggeval het nie), meer as helfte is stoet-diere.  Die ding is net – met die gebouery laas jaar is die kontantvloei nie van so aard dat ons regtig sy trop boerbokke kan bekostig nie.  By alles, moet ons die skuur groter maak, wat nog finansies sal vereis.  Aan die ander kant, is die waarde van sy bokke aansienlik meer as waarvoor hy hulle verkoop.  So wat doen ons?  Koop hulle of nie?  Ek wens dat pa my kan raad gee in lewende lywe, maar helaas ……. dalk kom die antwoord uit ‘n ander oord.

Ek het nooit genoeg kere gesê dat ek vir pa lief is nie, ek is.

Jou dogter

 

Nooit

“Nooit is ‘n baie lang tyd”, is ‘n bekende gesegde. Vanoggend wonder ek oor nooit. Is nooit langer as altyd? Of is hulle ewe lank? Mens belowe mos om altyd vir iemand lief te wees en wanneer julle trou, belowe jy dit voor God. Maar deesdae se “vir altyd” is in ‘n japtrap verby. Dan belowe jy jouself om nooit weer so lief te raak nie, ook die belofte word vinnig vergeet.
Laas jaar terwyl ek die terapeut gesien het, het ek ook eendag ‘n “nooit” stelling gemaak en sy was vinnig om my tereg te wys. Haar woorde: “Wanneer jy vir jouself sê dat jy iemand nooit weer wil sien nie, is dit asof jy ‘n knoop in jou brein maak. Dan dink jou brein heeltyd aan die nooit en vergeet ook nie” Sy het die waarheid gepraat. Ek vind dat ek nog steeds wonder wat X doen, hoe dit gaan. soveel so dat ek al sy naam ‘n paar keer op die internet ingetik het.
Ek raak sommer moerig vir myself. Ek weet mos dat ek hom nie wil terughê nie, hom nooit weer wil sien nie. Hoekom bly ek dan kyk en soek in ‘n skare mense? Het my brein se knoop permanent vasgehak of sal dit oorgaan. Moeg en siek en sat vir die gemaal in my kop.
Die liedjie wat deesdae in my kop maal, het niks met nooit of altyd te doen nie, bewys net dat dit regtig nou tyd is om vakansie te gaan hou. Laat my ook so bietjie dink aan die alewige vergaderings by die werk, waar almal gelyk wil praat en natuurlik ook die hardste.

 

Vandag

Vandag het ek ‘n weird ding gedoen. Weird vir my, want al is ek ‘n grootbek en meestal te loud, is ek eintlik ‘n baie privaat mens. Maar voel ek lankal dat ek meer kan en moet doen vir ander. Met die onlangse reünie het ons klomp gepraat van die mense wat nie daar kon wees nie omdat hulle oorlede is. Weet julle dat uit ons groep van 96 matrieks, daar 12 oorlede is. Dit is meer as 10%. Met 8 selfmoorde

Die wat lank al hier lees, weet dat ek nie droom nie. Toe ek vanoggend deur Blerrie wakker gemaak word, kan ek my droom onthou. Die Saterdagaand van die reünie het almal iets op die mikrofoon gesê en toe dit my beurt is, toe sê ek iets oor die maats wat nie daar is nie. En dat dit jammer is, hulle moes gepraat het, met iemand, nie noodwendig ‘n sielkundige nie, net iemand, want dan was hulle dalk hier. In werklikheid het ons lekker geparty en ek het niks gesê daarvan nie.

Die reünie whatsapp groep bestaan nog steeds, so voordat my moed my begewe het, het ek die volgende boodskap gepos:

Ek het vanoggend van ons matriek groep gedroom en waar ek nou tik loop trane. Met die reünie het ons gepraat oor almal wat nie meer met ons is nie en die hoë persentasie selfmoord. Maklik kan ons die suicide groepie genoem word. As jy hier lees vandag en daar is, wil ek mooi vra: praat met iemand. As jy nie met ‘n kopdokter wil of kan praat nie, kry iemand anders en as jy niemand het nie, bel my. Ek kan jou vertel dat ek ook al daar was, van die keer wat ek dit amper reggekry het en hoekom ek bly is dat ek vandag nog hier is. Ek weet hierdie is die lag groep, maar ons het elkeen ‘n storie, joune kan dalk vir iemand iets beteken. Moenie deel word van die trend nie, vra vir hulp, as ek kan help ek graag, of dalk is luister na jou genoeg, praat net. Antonette

Dit voel asof ek dit moes skryf, miskien is net die boodskap genoeg vir iemand, hopelik help dit klaar. Maar net dalk sal iemand bel, of dalk sal iemand ook hulle storie deel. Wie weet

Daai liedjie in jou kop

Vandat ek kan onthou, het ek nog altyd maar ‘n liedjie in my kop, vir dae aaneen hoor ek dit speel en dan eendag moet ek dit soek en luister.  Liedjies laat my ook gereeld terugdink aan spesifieke tye in my lewe.  Gister oggend op die radio speel Nelly Furtardo se Torn en duidelik kan ek onthou dat dit die liedjie was wat in my kop gedraai het, toe ek in 2006 Kuala Lumpur toe is vir werk.  Ek onthou die snaakse onbekende reuke in die mark, die pirate DVD’s wat so goedkoop was daar en dat ek die CD net moes koop.  Van die trip self onthou ek nie so baie nie, net dat ons hard gewerk het en nie veel van die land te siene gekry het nie.  Ook dat dit baie warm was.

Pon the Replay van Rihanna, laat my altyd terugdink aan my dogter wat in Duitsland gaan dans het en hoe trots ek was om die Suid-Afrika vlag en volkslied te hoor toe een van haar maats, die eerste keer ooit, die dogters hip-hop daar gewen het.  Die trane het gevloei en met ‘n knop in die keel het ons almal saam gesing aan Nkosi Sikelel’ iAfrika, al het nie veel van ons die woorde geken nie.

‘n Ander liedjie van Rihanna, laat my fudge proe – Unfaithful.  dit was ‘n jaar of wat later en die kinders moes weer oorsee gaan dans en as ‘n fonds-insameling het ons almal fudge verkoop.  Vir een of ander rede, het die song elke keer gespeel wanneer ek Randburg toe moes ry om te gaan fudge haal.

In 2008 is ek Frankryk toe vir ‘n leierskapskursus, dit was 2 weke lank in die suide van Frankryk en ek onthou dat op die laaste Sondag, is ek alleen met die trein Parys toe.  Die verlange na my mense het toe al baie erg geword.  Die kursus self het jou brein ontrafel en anderste-om weer aanmekaar gesit.  Geen wonder dat ek op ‘n mark in Parys, met oorfone in, “Jy soen my nie meer nie” van Lianie Nel, kliphard saamgesing het nie.  Met trane wat oor my wange geloop het.

My bloggery het begin met ‘n onskuldige sin wat in Google ingetik is, “Waarom maak mense so seer?” en dit het my gelei na https://strooimeisie.wordpress.com/2016/08/02/waarom-maak-mense-so-seer/.  Voor dit, het ek nog nooit belang gestel in ‘n blog nie, nie eers mooi geweet wat dit is nie.  ‘n Rukkie later het Strooimeisie geskryf oor ‘n Karen Zoid liedjie, waarvan ek nog nooit gehoor het nie.  Hierdie liedjie het in my kop gemaal vir maande en nou nog, wanneer ek Youtube oopmaak, is dit bo-aan my speellys (seker omdat ek dit oor en oor gespeel het)

Is dit net ek wat so ‘n verbintenis met musiek het?

Wie kyk na jou?

Die naweek was dit ons 30 jaar reünie en van die 96 matrieks was daar seker so stuk of 20 teenwoordig, saam met wederhelftes en kinders, was ons so 50 wat saam gekuier het.  Party van ons het mekaar op skool laas gesien, ander weer, daag so elke 10 jaar op.

Dit is wraggies lekker om te kuier en op te vang met mekaar, lekker om te hoor wat almal aanvang met hulle lewens.  Verby hartseer om te dink aan die klompie wat nie meer met ons is nie.  Saam te wonder oor van die ander wat oorsee bly en werk, of hulle ons mis, of dit alles is wat hulle gehoop het dit sou wees.

Vrydag-aand hoor jy hoe van jou maats uitvra na jou matriek-kys en eerste liefde.  Jou ore spits, want self sal jy nie vra nie.  Die antwoord, dat hy miskien Saterdag sou deurkom.  Saterdag hoor jy sy boesem-vriend aan iemand sê dat hy dit toe nie kon maak nie.  Teleurgesteld?  So effens.  Jy sou graag wou sien of hy in die werklike lewe so goed soos sy Vuisboek-fotos lyk.  Maar ook so bietjie verlig, want dis mos ook net jou beste fotos wat gewoonlik geplaas word en ons almal het oud geword.

Hierdie reünie was anders as die voriges.  10 Jaar het almal nog groot drome gehad, met ‘n verwagting dat dit verwesenlik sou word.  Almal het gespog met duur karre of huise wat nou net gekoop is, ander met hulle babas of promosies.  20 Jaar het meeste hulle kinders saam gebring en die klompie wat die baba-vet afgeskud het, is opelik bewonder.  Teen daardie tyd was daar al ‘n paar wat regtig naam vir hulleself gemaak het.  Party ander het net stilgebly oor die skuldlas wat hulle lewensstyl hulle mee opgesaal het.

Op 30 jaar het meeste van ons al ‘n paar lewenslesse geleer.  Meeste het nou al besef dat die lewe om meer as net geld en looks gaan, dat dit nie ‘n skande is om te erken dat jy al gefaal het nie, dis hoe jy opgestaan het, wat saak maak.  Selfs die klomp wat nie meer met ons is nie, (daar is 10 van hulle, wat statisties baie hoog is), het ons laat besef dat die lewe te kort is.  Hopeloos te kort vir oppervlakkighede.  Van die matrieks is nog in die land, maar wou nie daar wees nie, sommiges wat daar was, het hulle raakgeloop en dan maak hulle asof hulle jou nie ken nie.  Nou ja, ons kom nie uit die beste dorp nie, dalk is hulle skaam vir waar hulle vandaan kom, dalk skaam vir wat hulle nou is, wie sal weet?

Saterdag-aand is daar heerlik gekuier, ou stories uitgeruil en geskater van die lag.  Die shooters het geloop en menige “Onthou jy toe…..” stories is vertel.  Een van die vrouens (wat saam met my op laer- en hoërskool was, maar wat ek nie goed geken het nie), het die volgende te vertel:  Haar ma het gesê sy mag nie met my maats wees nie, want ek was rof, (En ek was) maar sy wou nog altyd soos ek wees.  Wanneer iets in haar lewe moeilik lyk, kyk sy na my en sê vir haarself dat omdat ek dit gedoen het, kan sy ook.  Hoe meer ek probeer sê dat elkeen maar sy eie k@k het, hoe meer gaan sy aan.  Ek het naderhand net my kop geskud.

Dit het my aan die wonder gesit:  Vir wie is jy ‘n voorbeeld, sonder dat jy dit eers weet?  Wie kyk na jou en dink “Ek wil soos sy wees”?  Dit sit mens nogal aan die dink.  Ek het nog altyd my eie kop gevolg en was maar ‘n bietjie awe-regs, het nooit eers ‘n tweede gedagte gegee aan hoe ek goed doen nie.  Gaan ek nou begin omgee?  Heel moontlik nie, maar nou gaan ek heeltyd wonder “Wie kyk na my?”

Wanneer dit 40 jaar reünie tyd is, het ek hopelik ophou wonder en gee nog minder om.  Viva die ouderdom!!

Tummy

Maandag die 23ste sou jy 9 jare oud gewees het, maar 4 dae voor dit (Donderdag 19/09) het ons besluit om jou leiding stop te sit.  Ek kon nie hieroor skryf nie, dit was te rou.  Dit was een van die moeilikste besluite wat ek nog moes maak, maar na ‘n maand kon jy steeds net jou kop lig, nie sit nie, nie loop nie en nie hardloop nie.  Jou ogies het nog geleef en elke keer wat ek saam met jou buite gesit het, kon ek sien hoe graag jy saam met die ander honde wou speel, maar twee wonderwerke was te veel vir een honde-lyfie.

Tummy

Ek is so dankbaar vir die klompie ekstra maande sedert April wat ons saam kon spandeer, so dankbaar vir die eerste wonderwerk en so jammer dit het nie weer gebeur nie.  Jou nek werwel was die keer permanent beskadig.

Dankie dat jy vir nege jaar vir my die beste hond was, altyd reg met ‘n smile, altyd daar om my op te pas.  Ek weet jy hardloop weer, daar in die hemel, saam met jou ma, Dyna en jou half-boetie, Fluffy.  Daar kan jy na hartelus speel en hardloop, selfs in vuil plekke inkruip en jou sagte silwer hare sal nooit vuil word nie.  daar hoef jy nie gebad te word nie, want jy haat dit en in die hemel is daar niks wat jy haat nie.  Wag daar vir my, ek sal jou eendag weer daar sien.  Moet my nie vergeet nie, want ek sal jou nooit vergeet nie.

#Waarheid

Deur populêre musiek bring Riana Nel ‘n boodskap.  Een wat sê dat sy weet dat sy gesondig het, maar dat sy witgewas is deur die bloed van Jesus en vandag met vertroue kan vra dat die hemel vir haar oopgehou moet word, want sy is reg.

En die video is meesterlik gemaak, ‘n moet kyk.

Lekkerste lekker

Wanneer dit voel asof die berge werk jou wil insluk en niks met mekaar wil balanseer nie en jy 3 weke laas ‘n hele nag deurgeslaap het, wat maak jy?  Jy gaan haal jou kleindogter op ‘n Vrydag-middag om te kom kuier en oorslaap en jy geniet die kosbaarste tyd.  Dit help natuurlik ook nie dat die vistenk ‘n helse lek opgedoen het en nie een van die werkers iets daarvan weet nie.  So dan haal jy maar visse uit en tap water af en sort die goeters uit, so op ‘n Vrydag-aand.  Natuurlik help die 2 jarige net van die wal af tot reg in die sloot, maar so what?

Saterdag-oggend moet die ouma haarself en 2 jarige regkry, want dis die ander 2 jarige se skoolkonsert en ek is al klaar talle kere vermaan dat ek nie (weer) mag laat wees nie.  Daar aangekom (vroeg, vir ‘n slag, dankie Grim) lag ons te lekker vir die kleuterskool babas en kindertjies se dansery op die verhoog, op ‘n stadium was ek skoon bewoë oor die allimintige voorreg om daar te kan wees.  Ek het geen idee hoe die juffrou daai klomp woelwaters agter die verhoog stil gehou het nie, ek is doodseker daar is ‘n hele klomp lekkergoed uitgedeel, want to die konsert verby is, kom klein Z nog steeds nie stilstaan nie.  ek wou nog groet, maar sy het vir my en M een kyk gegee en oplaas verklaar “Ek my ouma kuier”, haar ma wou nog keer, maar sy wou net niks weet nie.  So is ek met 2 2-jariges terug plot toe.  Na ‘n uur se gespeel buite, kon ek hulle vir 1 minuut kry om te cheese vir die kamera:

Hoe kry mens hulle om altwee gelyk te “cheese”?

Vanoggend toe ek by die huis uitstap, roep die werker my.  Ons tweede lammetjie is gebore.

2019-09-16 08.15.28

Joh, bokke is nie baie goeie ma’s nie.  Dis omtrent ‘n stryd om haar te maak stilstaan sodat die baba kan drink.  Wanneer hulle mekaar eers “gevind” het, is hulle onafskeidbaar, maar al ons bokke is nog jonk, so hulle is eerste keer mammas.

Nog steeds, lekkerste lekker