Hompie

1b2e0104b2e24fb624a817ec23549d6f

Hompie Kedompie staan in die skuur

Hompie se bok loop haar dat sy val, sy is suur

Hompie se boud is blou en pers

Hompie se mense lag tot sy op haar tande moet kners

 

Hompie wil graag vir julle haar boud wys

Maar Hompie dink WordPress sal dit as porn lys

Hompie se ego is erg gekraak

Maar Hompie probeer steeds om dit as ‘n grap af te maak

 

Valies

Hester se skrywe laat my terugdink aan lank lank gelede.  Ons het toe nog die karavaan gehad en die kinders was klein.  Nogal gereeld het ons na Voetplaatpark gegaan met vakansie.  Die park is lekker beskut met bome, so die wind waai jou nie weg nie, terwyl jy steeds die see kan hoor.  Mens het ook die keuse om te kamp en ablusie-geriewe te deel, of om jou eie kombuisie en badkamer te hê, heerlik gerieflik wanneer jy in die nag moet opstaan.

In elk geval, lank lank gelede, toe ek nog ok-erig gelyk het in ‘n bikini, was ons saam met vriende by Voetplaatpark.  Op die eeerste dag daar, het ons vinnig afgepak en afgesak op die see.  Daar gekom, was daar maar min mense in die onstuimige golwe, maar soos Valies maak, het ek en my vriendin besluit, vandag gaan ons swem, come hell or high water(letterlik).

Ons was skaars in die water, toe ons besef waarom so min mense swem.  Die branders het ons onderstebo en agterstevoor geslaan.  Naderhand het ons nie meer geweet watter kant bo of onder is nie.  Die bikini toppies en die broekies is menigmaal vervaard opgetrek.  uitasem val ons op ons handoeke neer en staar, soos die res van die mense op die strandn wrewelrig na die see.

‘n Ouerige omie kom verbygestap en stop voor ons twee wat soos natgereënde hoenertjies op die strand sit.  Eers dog ons hy wil net ‘n praatjie maak, maar sy woorde:  “Baie dankie juffroutjies, julle tweetjies het my vakansie gemaak, met julle skouspel daar in die brandertjies”  Hy stap verder en ons hoendergesiggies is bloedrooi gebloos.

Dis my ma se skuld….

Siende dat die skole die week begin het en na aanleiding van die vele insidente laas jaar van kinders wat totaal hande uitruk en dan word alles en almal blameer, behalwe die kind self, het ek gedink om my sop-storie ook te plaas.

Ek was seker so 10 of 11 jaar oud, daar êrens in die 80’s, een van my maats kom by die skool aan met haar hare gevleg in ‘n franse vlegsel.  Daardie tyd het die internet nog nie bestaan nie en op die plattelandse dorp waar ons gebly het, het ek nog nooit iets so mooi gesien nie.  Natuurlik het ek daardie middag by die huis gekom en aangedring dat my ma my hare ook so moet vleg.  Na ‘n paar pogings van my ma se kant af, het sy moed opgegee.  die franse vlegsel wou net nie werk nie.

Ek het myself so vererg dat ek vir dae in die kamer gesit en geoefen het om my eie hare te kan vleg.  Siende dat ek op daardie stadium nog nooit eers gesien het hoe dit gedoen word nie, was die vlegsel aanvanklik maar krom en skeef.  In die aande het ek tot gedroom van die gevleggery en op die ou einde het ek dit tog reggekry.  Vir ‘n hele tyd was my hare elke dag gevleg skool toe.  Later in die hoërskool is hare geperm, so die vlegsels het al minder geword.  Maar ek kon dit steeds doen en het later my eie en die trompoppies se hare gevleg.

My dogters se hare was baie lank toe hulle klein was en D het gimnastiek gedoen, die oplossing – ‘n franse vlegsel wat onder haar een oor begin en dan so al om die kop gevleg word in ‘n sirkel, dit was die enigste manier om die hare wat tot op die boude gehang het weg te bind.  Natuurlik het die meisiekinders nooit baie stil gesit vir die vleggery nie en is ‘n paar keer met die borsel teen die kop geslaan (hulle het my nou nog nie vergewe nie).  Altwee van hulle kon nie wag om hulle hare te sny in ‘n bob nie en toe is die vleggery ook op ‘n einde.  toe hulle op hoërskool hip-hop gedans het, moes ek weer vleg, sulke klein vlegseltjies (corn-row braids), so teenaan die voorkop.  Die hele dans-span se hare moes gevleg word toe hulle in Duitsland gaan deelneem het, dit het my omtrent die hele nag besig gehou voor hulle kompetisie die volgende dag.

Game of thrones, Frozen en Vikings het die franse vlegsel weer nuwe lewe gegee en deesdae is dit hoog-mode om gevlegte hare te hê.  ‘n Gewone franse vlegsel is ook nie meer goed genoeg nie, nee, nou moet dit uitstaan (dutch-plait), fish-tail of waterval -gevleg word.  Natuurlik moes ek myself ook leer om dit te kon doen.  Gelukkig het ons nou die internet, waar ek kon leer.  Ek het nog altyd gesukkel om die corn-row op my eie hare te doen, maar Maandag het ek dit uit-eindelik reggekry.

IMG_20200113_081957 (1)

Alles my ma se skuld.

Trap die briek

2020 het met ‘n bang afgeskop.  Vir my in finansies is dit altyd sleg, want ek moet op die 2de werk en dan nie net sommer gewone maand-einde nie, nee dis jaareinde, so klomp ekstra goed moet gedoen word.  Ek weet dat ek ten minste een nag deur die nag sal moet werk, so sommer vinnig is die heerlike vakansie vergete en my lyf alweer moeg.  Maandag was dit dan toe nou so en na ek gedeurnag het, het ek net na 8 in die oggend by die huis gekom.  Die krag was af van die vorige dag af, ‘n boom het op die lyne geval, so die slapery in die hitte was moeilik.  Ek het so 10 uur eers aan die slaap geraak en net voor 1 weer wakker geword, sopnat gesweet, gelukkig het die krag ondertussen weer aangkom.

Op ons plotjie is daar mos nou al heelparty bokke en laat laas jaar het ons besluit om ‘n deel van die plot om te ploeg en gras te plant vir weiding.  Elke keer wanneer die bure se werkers verby stap, lag hulle vir ons werkers wat klippe optel.  Wel mens kan dit ook nie klippe noem nie, dis rotse, party sommer so meter by ‘n meter groot.  Elke keer wanneer Grim met die 1954 trekker daar inklim (met die ripper agter-aan), maak hy meer en meer rotse los, wat die werkers dan teen die heining pak.  Om julle ‘n idee te gee, so 100m van die heining is nou al ‘n halfmeter hoog gepak met klippe.  Ons wou vreeslik graag die gras geplant het voor ons vertrek het met vakansie, maar toe reën dit mos katte en honde, so Grim kon nie ploeg nie.  Laas week was hy by die huis, so ek kon nie wag dat hy begin ploeg nie, maar weer-eens het daar iets voorgeval.  Gister kon hy nie andrs nie, daar moes geploeg word.

Ek was besig om aand-ete aanmekaar te slaan in die kombuis en kon die trekker se klank duidelik hoor.  Na ‘n half-uur, raak dit stil en kort voor lank hoor ek vir Grim mompel buite die huis, ek ignoreer.  Die trekker word weer gestart en vir nog ‘n half-uur hoor ek hom weer.  En toe is daar weer stilte.  Grim storm in die kombuis in en sê ek moet kom help, die trekker het gebreek.  Nou wat ek daaraan kan doen gaan my verstand te bowe, maar blykbaar gaan ons hom sleep.  Daar gekom word ek vertel dat ek die trekker moet stuur en hy sal die Hilux ry.  Ek is doodbang om agter die stuurwiel van ‘n motor te sit wat gesleep word, wat nog van die trekker wat ek geen idee het hoe om te bestuur nie, maar nou ja wanneer Grim iets in sy kop gekry het, is daar geen redenasie nie.

Dit het ok gegaan oor die geploegde land en die rotse in ons pad, selfs deur die hekke het ek darem nie die trekker gestamp nie.  Die probleem begin toe ons moet stop.  Grim skree by die venster uit dat ek die briek moet trap en ek skree terug dat ek nie weet watter van die pedale die briek is nie.  Die linker een skree hy terug.  Ek trap die briek vir ‘n vale, maar die trekker bly beweeg – agtertoe.  Toe sê hy dat ek hom in rat moet sit, nou ja ek het ook nie geweet hoe om dit te doen nie, so hy spring uit die bakkie uit, sit die trekker in rat en dit alles terwyl die bakkie en trekker saam nog steeds stadig agteruit loop.  Ek besef dat ek die trekker nou maar self sal moet reverse tot waar Grim hom wil hê en so met bewende hande en voete en ‘n hart wat honderd myl ‘n uur klop, kry ek dit darem reg.  Die trekker staan nou weer op gelyk grond, wat beteken hy staan stil.  Bewerig klim ek af.  Grim gee my so skewe kyk en sê dat hy dit verkeerd gehad het, die briek sit aan die regterkant, so ek het heeltyd die koppelaar getrap, pleks van die briek.  Ek gaan hom nog lank spot oor die een.

Vanoggend dink ek toe by myself:  Hoeveel kere in my lewe het ek al die briek moes trap, maar eintlik die koppelaar getrap en die situasie moeiliker gemaak?  Hoeveel kere het ek al deur mis kommunikasie die situasie erger gemaak?  Hoeveel kere het ek al op ander mense se instruksies gereageer, eerder as om vir myself te dink dat ‘n trekker eintlik net ‘n voertuig is en die koppelaar en brieke moet mos aan dieselfde kante sit as ‘n motor s’n.  En dan die laaste besef – dis tyd dat ek die brieke in my lewe moet kry en begin trap, maar eers moet ek seker maak watter goed het brieke nodig en watter moet petrol kry.

Ok maar lekker…….

…..stupid, soos ouboet van Orkney-snork-nie, sal sê.

8 Jare het ek langs hulle gebly en laas naweek het ek hulle vir die eerste keer ontmoet, nadat ek uit getrek het.  Ek dink dit het begin by die vorige eienaars wat vir my gesê het die ou omie loer altyd oor die muur, veral wanneer hulle by die swembad lê.  Meer nog wanneer die vriendinne daar lê en sonbrand (soms sonder ‘n bo-stuk).  Dit het ook nie gehelp dat die omie elke nou en dan vir die X ‘n sms gestuur het om te vra dat die musiek sagter gesit word nie.

Ons het seker net so jaar daar gebly toe ons vir B vra om na die huis te kyk, hy is maar ‘n stouter en het natuurlik besluit om vuurwerke te koop en dit te laat afgaan reg langs die omie se muur.  Die oom het op die klip geklim om te kyk wat aangaan en die muur tussen ons, het inmekaar getuimel.  Toe ons, na 2 weke terugkom by die huis, was die muur herbou en ek het nog steeds nie die buurman ontmoet nie.

Toe my dogter 21 word, het sy besluit om by die huis ‘n partytjie te hou.  Dit was dieselfde aand as Skouspel, so ons sou nie daar wees nie.  Toevallig het ons besluit om maar eerder terug te ry huis toe, na die konsert.  Toe ons daar aankom, so 3 uur in die oggend, was daar steeds mense daar, almal onbekendes wat ons hele onthaal-area vol sit.  Ons hoor toe die storie:  Die buurman het die polisie gebel oor die laatnag-rumoer en het sommer saam met hulle gestap na ons hek toe, hyself bewapen met ‘n krieket-kolf.  Toe een van my dogter se vriende uitgaan om die hek oop te maak, kom hy agter dat hy die polisie-man ken.  Polisie is ook nie links nie en dreig die buurman dat hulle hòm gaan arresteer omdat hy ‘n wapen(krieket-kolf) het.  Buurman stap toe maar huis toe, terwyl die polisiemanne verder saam met die jongklomp kuier.

Op ‘n ander geleentheid het ons gebraai in ons nuut-geboude boma.  Boma was reg langs die skeidings-muur en net skuins voor buurman se kombuis.  Dit was skaars agt-uur, toe ek al die mense die huis sien binne-storm.  Buurman het genoeg gehad van die alewige lawaai en het peper-sproei oor die muur gespuit.  Die een meisie wou sommer net daar die polisie bel vir die oom.

So eintlik is dit nie snaaks dat ek hulle nooit ontmoet het nie, maar die onlangse reën het ander planne vir ons gehad.  Die muur wat die oom herbou het in 2011, het heeltemal omgeval en die versekering weier om te betaal, so ons moet self ‘n plan maak.  Wat beteken dat ons saam sal moet werk.  Laas naweek het ons mekaar sommer so by die ingevalle muur ontmoet.  Tussen ons, het ons kwotasies gekry en die muur behoort teen die naweek weer te staan.  Regtig oulike mense, die oom en die tannie.  Hopelik bly die muur staan en die “muur” tussen ons is vir altyd afgebreek.

En nou?

Ek skryf min, die tyd haal my in en meeste dae wonder ek waar die 24 ure wat elkeen van ons kry, vir my heen gegaan het.  Sal so vining vertel van alles en nog wat.

Tummy is gaan haal by die veearts en omdat hy nog nie lekker kon loop nie, het ons hom saamgevat Jeffrey’s baai toe.  Ons het vir 10 dae saam met my sus, in hulle huisie by die see gaan kuier.  Ou Tummels was die eerste paar dae nog erg seer, maar die tydjie het hom goed gedoen.  Hy sal seker nooit weer ‘n 100% reg wees nie, hy loop effe kruppel en jelp nog steeds wanneer mens hom verkeerd optel, maar hy is ok en al klaar weer besig met sy streke.

Laas Vrydag-oggend kom Grim en sê dat ek hom gaan doodmaak.  Hy het maande gelede vir die res van die Admin op die Jhb Singles groep gesê, dat hulle ‘n funksie by ons huis kan reël en dat die mense sommer tente kan bring en oorslaap.  Diè funksie sal Saterdag (ja die volgende dag) plaasvind.  En ekke is vrek besig by die werk met maand-einde, die huis is deurmekaar, Grim se neef en sy vrou kuier ook daar (sien onder) en bowenal is dit die oudste kleindogter se sport-dag Saterdag, maar nou ja, grin & bear, smile & wave.

Toe ek so 12h30 by die huis kom, is daar so 20 singles, met tentjies netjies in my voortuin.  Die klompie kuier heel gesellig en kort-kort kom nog mense daar aan.  Vroeg-aand word daar ‘n vuurtjie gemaak en dit lyk asof alles voorspoedig gaan verloop.  So teen 6 uur sê Grim dat H gebel het en dat hy vir H ook gesê het om oor te kom.  (H bly so 2km van ons af, is nie getroud nie, sy is deel van die buurtwag en het al saam met Grim patrollie gery, dit was weer hulle beurt Sondag-aand.)  Sy noem dat sy al bietjie gedrink het, maar Grim sê, dis geen probleem nie.

Wanneer sy instap, sien ek dadelik, sy het bietjie meer as bietjie gedrink, sy en B herken mekaar van AA af, maar sy het van die wa afge neuk val.  Nou H is ‘n lang vrou, seker so 1.9m.  Sy vra dadelik wie al die mense is, so verduidelik ek dat dit die singles groep is.  Maar Grim en ek is dan getroud, sê sy.  Nee, ons is nie, hy is nog steeds deel van die admin, want hulle sukkel om mense te kry om die werk te doen, antwoord ek.  H is buite toe, elke keer wanneer Grim êrens heen moet gaan, moet ek saamstap, want H hang aan hom en dit laat hom vreeslik ongemaklik voel, en ek wil my doodlag daaroor.  Sy is oppad om te ry, toe een van die mans, grappenderwys sê: “Bye tannie”, sy stamp hom dat hy 2 meter deur die lug trek.  Nadat sy weg is, vertel een van die ander mans dat sy hom gebyt het.  My wenkbroue lig net op en ek skud my kop.

Volgende dag, wil Grim niks weet van patrollie saam haar doen nie, maar hy kon nie daaruit nie en ek weier om op ‘n Sondag-aand 2 ure in ‘n kar rond te ry.  Toe hy terugkom, vra ek hom hoe die patrollie was, hy sê dat H vreeslik omverskoning gevra het vir haar gedrag.  En……dat sy nie geweet het ons is sulke lekker mense nie.  Lekker? vra ek.  Sy het in haar staat gehoor ons host die swingers klub en nie die singles klub nie.  Nou ja…….As julle hoor van die nuwe, lekker swingers wat in Hennops-rivier bly, is dit seker ons.

Grim se neef van Zim af, het ‘n knie-vervanging gehad en het vir 3 weke daar by ons gebly (waarvan ons 10 dae nie daar was nie), hulle is laas Sondag huis toe.  Vrydag het hulle vir hulleself die mooiste bruin Rottweiler in Harties gekoop en natuurlik moes ons toe die boetie Sondag gaan koop.  Van swingers na nuwe ouers in een dag.

Ek het gereel met iemand op OLX om Woensdag ‘n oulike Wendy-pophuis vir die 3 meisiekinders te gaan haal in Edenvale.  Natuurlik moes Grim die groot waentjie haak, wanr die ding is 2.5 x 2m groot.  Die vorige dag het ek ‘n Nigeriese dwerg bok te koop gesien, so reel ek sommer om hom ook te gaan haal.  By die huis gekom, het ons die pophuis afgelaai, met ‘n gesukkel en die bok is in die toekomstige hoender-afskorting ingesit.  Nou ja, bok se naam is Silly Billy en hy is te oulik, net so 40cm hoog.  Die honed wil hom opvreet, maar hy vat nie hulle nonsens nie en stamp hulle met sy horings dat hulle daar trek.

Gister-aand bel Grim my, hy gaan die bok iets aandoen, Silly Billy spring oor die hek (1.5m) en jaag die honde.  Toe ek by die huis kom, is Grim en al 10 die honde binne die huis, met ligte af en meneer bok staan op die vensterbank op die voorstoep.  Hy soek eintlik net maatjies, stamp met die kop aan die voordeur en die glasdeure op die stoep om in te kom.  Hy volg my oral waar ek loop, so ek het hom darem terug in die hoender-kamp kon kry, maar natuurlik moes al die honed maar in die huis slap, vir ingeval Silly Billy weer oor die hek spring.  Wys jou, mens moet meer navorsing doen voor mens honde en bokke koop.

Ek sal fotos neem van hond en bok die naweek, sodat julle kan sien waarmee ek myself besig hou.  Lekker naweek almal.

Die mal vrou langs-aan

Sondag-oggend ly ek die twee groot swart perde na hulle kamp aan die onderkant van die plot toe, dis net na ses in die oggend, die windjie koel, meeste mense slaap nog.  Die perde runnik en ek sien dat hulle geskrik het vir die bure se honde.  Ek wonder wat doen die honde aan die kant van die hek, hulle is mos veronderstel om agter die hek te wees.  Ek kyk op en sien dat daar wel iemand saam met hulle is.  By nadere betragting sien ek dat die vrou geklee is in haar pajamas, met ‘n japon bo-oor.  Elke nou en dan buk sy om iets op te tel en in ‘n kruiwa te gooi.  ‘n Kruiwa?  Net na ses?  Dis darem baie ongewoon.

Ek probeer om nie ooglopend te staar nie, maar ek kan myself nie help nie.  Sy is besig om klippe op te tel en die kruiwa raak al hoe voller.  Ek kan sien dat sy nog nie eers hare gekam het nie, dit staan in alle windrigtings.  Nadat die perde veilig in die kamp is, begin ek terugstap, huis se kant toe.  ‘n Koppie koffie sal darem nou goed afgaan.  Die vrou langs-aan groet toe sy my sien.  Ek kan haar nou behoorlik sien.  Dis vir my duidelik dat sy gehuil het, en nog steeds huil.  Party mense kan so elegant, saggies huil, met ‘n traan wat oor die wang biggel.  My buurvrou is nie een van hulle nie.  Haar hele lyf ruk soos sy snik en kort-kort vee sy haar neus sommer met haar japon se mou af.  Nee, sy is nie ‘n elegante huiler nie.

Terwyl ek terugstap wonder ek wat met haar aangaan en ek kom tot die gevolgtrekking dat daar net een verduideliking kan wees vir huilend klippe optel, in jou nag-gewaad, ses-uur op ‘n Sondag-oggend: die vrou moet mal wees.  Natuurlik wonder ek ook of dit vir ons enige bedreiging inhou, diè mal buurvrou?

Sy naam is Charles, hy bly op die plot langs ons en dis wat hy moes gedink het Sondag-oggend toe hy my sien.  Ek is die mal vrou langs-aan, wat net nie meer kon stilsit nie en iets moes doen.  Ek het gaan klippe optel om die ou bad mee te vul, ons wil ‘n kruie tuin begin.

Ek kon nie gister by die veearts uitkom nie, maar dit klink my dit gaan ok met my Tummy

 

Lê jou eier – Wie is ek

Ek kon nie help nie, sal later ‘n ordentlike blog skryf, vir nou:

Hier is die Inlinkz-skakel vir die uitdaging wat vandag om 12:00 pm open: https://fresh.inlinkz.com/p/6061e1ded6fa403bb328f7fe5decfe6d

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

 

‘n Dame mag mos nie….

…poep nie.

Ek lê soos ek lag. ‘n Man pos die volgende op een of ander huweliksberading vuisboek blad:

Anoniem vra: Is dit normaal vir n vrou om so baie te poep? Veral as dit by seks kom. Ek weet sy is op haar gemaklikste en voel ontspanne. Sy lag en ek is ernstig. Partykeer is dit snaaks maar dit sit my sommer af. Ek as man kom uit n huis waar my ma of suster nooit gehoor poep het nie en so ook nooit die vroue van my familie nie. Ek weet dis n normale ding wat moet gebeur. Maar tog as man voel ek partykeer dis meer n man ding om te kan poep en beklemtoon man wees.

Maar my vrou is soms harder as ek en poep baie meer. Ek moes seker geweet het toe sy my meisie was en ek na haar kamer wou gaan om vir haar iets te sê toe hoor ek hoe brul sy met haar poepe. Nou is ons 8 jaar getroud en sy poep my uit die huis. Ek hou baie van vroue se boude en wonder tog of alle vroue met mooi boude net so baie poep? Enige raad dat sy minder poep? En hoe voel julle mans oor julle vroue wat poep?”

599 comments later, met die top 3:

  • Ek het gehoor dat jong dames nie poep nie omdat hulle eers n poephol kry die dag as hulle trou.
  • Alle grappe op n stokkie…shame ek kry die man eintlik jammer😔hy sal nooit n romantiese aand met kerse kan he nie😬…mens speel nie met oop vuur en gas nie🤣🤣🤣
  •  Wat verwag jy huh?? Jy pomp haar vol wind, wa moet dit heengaan??

Die arme man, hy het ‘n dood onskuldige vraag gevra.  Siestog

poep3poep2poep

Hou vas….

Una skryf van haar dam en dit laat my dink aan ‘n storie (sien hoe inspirer ons mekaar op die blogs?)

Ek het al voorheen vertel dat ek 10 was toe my pa en ma geskei is.  My pa het binne ‘n jaar met iemand anders getrou en alhoewel hy ‘n moeilike man was, was sy ‘n borrelende person en werklik net altyd goed vir ons.  In elk geval, my stiefma het ‘n groot voorliefde vir witwyn gehad.  Ons klomp (ons 3 kinders en haar 2) het gereeld vakansies saam met hulle by my pa se Vaalrivier huis gekuier.  Daar was maar nie veel om te doen nie, so visvang en swem in die rivier was op warm dae die aangewese ding om die tyd te verdryf.  Ek onthou goed dat ons altyd so luilekker met die lilo’s rivier-af gedryf het en dan omtrent moes arms swaai om weer terug te roei.  My pa het ook so bruin baster hond gehad, Floppie was sy naam.  Hy het ons gereeld prober “red” en dan die lilo lekker geskeur.

In elk geval, tannie L was nie die maerste nie en wanneer haar sussie kom kuier het (wat ook effe gewigtig was), het die wyne eers lekker geloop.  Hulle besluit om op die rivier, met die kano uit te vaar, altwee klim in, met ‘n glas wyn in die hand.  Hulle skuif reg en die bootjie skep so bietjie water.  Die spaan word aangegee en die boot skep nog so bietjie.  Twee meter van die kant af hoor ons duidelik die glug glug en daar sink die kano.  Die gepermde hare van daai tyd kroes onmiddelik, die sonbrille is verlore, maar die hande met die wyn in, het nie eers nat geword nie.

Lekker naweek!!

2b233e174c47bc2e25c2f21e50cfa04c