Lewens-viering

Gister moes ons in opdrag van een van die Towerinne iets doen om die lewe te vier, sommer omdat ons bly is om te lewe.  Natuurlik tel dit nie dat ek moes bokke injaag en voer nie, dit doen ons immers elke dag.  Dit tel ook nie dat ek en Grim by ons local gaan eet het nie, want dit doen ons elke tweede dag.  So my lewens-viering was om vroeg in die bed te gaan klim.  Nou sal jy vra, “hoe vier jy iets terwyl jy slaap?”, maar ons doen dit nooit, met die gevolg dat ek vrek moeg is.

Was dit ‘n viering?  Nie eintlik nie, ek het skaars my kop neergesit, of die radio begin mal gaan, Grim vlieg op, gryp sy flits en kom eers 1 uur weer by die huis.  Die klompie boewe het oral-oor rondgehardloop.  Op sulke aande kan ek nie slaap nie, lê na die radio en luister totdat hy terug is.  So ek sal maar vandag weer moet probeer.  Dalk ietsie anders?  Ek is oop vir voorstelle hoor!!

Ondertussen ‘n liedjie:

Sommer so

Sommer so is Val-en-tyn ook iets van die verlede, (hoekom voel dit of die tyd vinniger verbyvlieg wanneer mens ouer word?)  Nie ek of Grim is groot op persente nie, maar die jaar het ons besluit om iets anders te doen om die dag van liefde te vier.  Ons is op ‘n Ghostbuster toer deur Pretoria.  Beide van ons is skepties oor spoke, maar dit was tog baie interresant.

Wie het nog nie by die “spookhuis” in Erasmuskloof verby gery en daaroor gewonder nie?  Behalwe vir die sogenaamde spoke, het ons die argitektuur en geskiedenis van die ou geboue in en rondom Pretoria vreeslik geniet.  Die staaltjies van die regte mense wat eens in die huise gebly het, was ook insiggewend.  Hier is ‘n artikel oor die spoke: https://www.bronberger.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=792:ontmoet-pretoria-se-bekendste-lastigste-en-hartseerste-spoke&catid=50:toeka-se-dae&Itemid=76

Twee van die staaltjies wat my sal bybly:  Het jy geweet generaal Smuts was vriende met Albert Einstein?  Dat hy (Smuts) as een van die slimste mense van sy tyd geag is?  Ook dat Winston Churchill hom geoormerk het om by hom oor te neem indien iets met hom sou gebeur in die oorlog?  Darem snaaks hoe Suid-Afrikaners soms aan hulleself dink as geisoleërd van die wêreld, selfs “minder” as die res.  Ek doen nogal partykeer.  En dan hoor mens die tipe goed, wat jou nogal trots maak om ‘n Suid-Afrikaner te wees.

Die ander staaltjie gaan oor die eerste Erasmus wat in die “spookhuis” gebly het.  Blykbaar was hy heel eksentriek en kon gereeld in die groot tuin gesien word besig om erdwurms dood te maak.  Die laaste Erasmus het die brandweermanne vinnig laat weghol toe hy gedurende ‘n veldbrand, op die stoep verskyn het, in sy wit nagkabaai.  Ek sou self nogal vinnig kon hardloop as die omie op ‘n stoep verskyn en op my begin skree.

d8ef8eaf1fbf3979084b0bfcacdc8759

 

 

Tegnologie

Ek weet nie of ek al voorheen vertel het wat ek nou eintlik doen wanneer ek by die werk is nie, maar hier gaat ons weer.  My offisiele posbenaming is Business controller, maar eintlik is ek die sorteerder-van-kak en soms die tolk tussen besigheid en IT.  Dit beteken dat ek net genoeg van die binnegoed en werking van die rekenaar weet om gevaarlik te wees, maar die besigheids-prosesse wat moet verander, kan ek darem vir ‘n konsultant verduidelik sodat hy verstaan wat om te programmeer.  Ek kan ook die veranderinge toets en seker maak alles werk voordat dit in die lewendige besigheids-stelsel gesit word.

Nou waarom sal ek vandag oor hierdie onderwerp wil praat?  Want die tegnologie het my al ‘n paar keer lelik in die g@t gebyt.  Het jy geweet dat alle CD’s en DVD’s nie dieselfde is nie?  Jare gelede het ek fotos op DVD geskryf, maar die operating sisteme het so verander, dat ek nie van die dvd’s kon lees nie en sodoende die fotos verloor het.  Deur die jare het dit ook al ‘n paar keer gebeur dat ‘n eksterne hardeskyf corrupt raak en dat ek dan ook alles verloor daarop.  Mens sal nou dink dat jy fotos wat na FB gepos is, weer kan aflaai, maar die kwaliteit is omtrent ‘n kwart van die oorspronklike en mens kan in elk geval nie dokumente na FB laai nie.

Dit alles het my laat besluit om foto’s en belangrike dokumente te back-up met Google Drive, wat na die cloud back-up.  Jy kies wat jy wil stoor en Google doen dit outomaties, selfs van jou foon af.  So het ek gekies om al die fotos op my laptop, my desktop dokumente, asook whatsapp met Google te stoor.  Ek het gereeld gesien dat Google moan dat my spasie vol is, maar my nie te veel daaraan gesteur nie.  Totdat my rekenaar in Julie gesteel is, ewe skielik het ek besef dat my fotos nie alles opgedateer is nie en die rede daarvoor: duplikate.  Daar is ook nie ‘n maklike manier of toep om hierdie duplikate te vind en te delete nie en om elkeen te soek en een vir een te delete vat ongelooflik lank.  Wat ek ook nie besef het nie, is dat daar meer as een “area” is waar fotos en videos gestoor word, jy kan dit in Google photos sowel as Google Drive sien.

Na ‘n lang soektog het ek besluit om maar die fotos te merk en te delete, dit was ‘n paar ure se werk, maar tot my verbasing het die beskikbare spasie nie regtig verhoog nie.  Ek het die “werkie” oor ‘n hele paar dae gedoen en low-and-behold, die fotos wat ek gister delete het, is vandag weer terug.  Omdat daar meer as een rekenaar betrokke was, is daar meer as een naam gegee aan elke foto, dan is daar nog die fotos wat deur whatsapp gekom het wat verdere duplikate veroorsaak het.  Vir sommige fotos was daar tot 4 van dieselfde een.

Maandag het ek toe weer begin soek na ‘n manier om die duplikate te delete en op ‘n program afgekom, Duplicate cleaner.  Dit nadat ek heelparty ander afgelaai het, die program gehardloop het, wat die duplikate uitgewys het, maar wanneer jy die delete knoppi druk, moet jy eers betaal (sug).  Duplicate finder soek die fotos op jou rekenaar wat gedupliseer is, sowel as in die houer vir Google drive (op jou rekenaar).  Wat ek nie besef het nie, is dat die fotos op my foon op verskillende maniere na die rekenaar geskryf word en sodoende duplikaat leêrs geskryf het, wat dan uiteindelik die duplikate veroorsaak het.

Nou het ek weer spasie in die stoor, wie wil smile vir die kamera?

 

Nuwe hoop

Dis 5h30 op die eerste dag van ‘n nuwe jaar, néé ‘n nuwe dekade en ons groet Mosambiek na ‘n great vakansie. Oral in die straatjies hoor mens steeds lokale pusiek in die kroeë. Wanneer ons op die hoofpad kom, is daar min karre, maar heelparty Mosambiekers met ‘n lastige sy stappie, wat hulle soms in die middel van die teerpad uitvoer. Heelparty ander sit langs die pad met hulle kop in hulle hande.Natuurlik laat ‘n nuwe jaar mens uitsien na nuwe dinge, nuwe uitdagings, maar mens dink ook oor die jaar of 10 wat verby is. Vir my was die afgelope dekade die seisoen van verandering, 2 egskeidings, 2 kinders se troues, 3 kleinkinders, ‘n nuwe werk, 2 keer verhuis, nuwe verhoudings en vriende, ou vriende vaarwel sê, my pa se afsterwe.My hoop vir die volgende 10 jaar is nie dat dinge dieselfde sal bly nie, ook nie dat alles beter sal wees nie, my hoop is dat ek die veranderinge, wat onafwendbaar is beter sal hanteer, dat ek geleenthede vir verbetering sal aan gryp, maar ook sal weet wanneer om nee te sê. Verder hoop ek vir dieper verhoudings.Dis nou 8 uur en die musiek word nog steeds hier en daar gehoor, maar mense begin ook hulle gewone winkels oopmaak. Hoop elkeen wat hier lees, se wense word waar. Voorspoed vir julle

Dis amptelik

Ek is oud.

Saterdag het ons gaan Krone kyk.  Ek het al in Desember laas jaar die kaartjies gekoop en het soos ‘n kind uitgesien, want laas jaar het ons te lank gewag, so ons het dit gemis.  Dis wraggies ‘n lekker saamsing jol en die beste kaartjies om te hê, is die goedkoopste, staan teen-aan die verhoog, kan sing en dans nes ons wil en so elke nou en dan vat ‘n kunstenaar aan jou hand.

Daar is sommer ‘n klompie bekende name wat optree, Kurt Darren, Ilanie May, Juanita du Plessis, Snotkop, Refentse, Nicolis Louw en nog baie ander.  My sussie en ek was al by 4 van die 6 Krone (sy was by 5) en dis rerig pret.  ‘n Mengels van Afrikaanse en Engelse musiek, met die woorde wat op die skerm flits, sodat mense kan saamsing.

Daar aangekom, het my sussie reeds bier gekoop en ons gaan soek ‘n plek waar ons mooi sal kan sien.  Die verhoog by die Menlyn Sun Arena is hoër as wat dit by Carnival city was, so mens moet heel voor staan as jy aan ‘n bekende se hand wil vat.  Ek drink net so een slukkie bier en bekyk toe die plastiekglas van onder af, daar is so swart knoppie en natuurlik dink ek die glasie word dan verlig.  Nie links nie, druk ek die knoppie en die bier spuit oor my skoene en al die mense om ons se skoene uit.  En die show het nog nie eers begin nie.  Ek gaan soek toe maar iemand met ‘n mop en bied plegtig verskoning aan al die omstaanders.

Daar word heerlik gesing en gedans, maar na so tydjie kom ek agter dat as ek nie die woorde ken nie, la-la ek maar liewer, want ek kan nie meer die woorde op die bord sien nie.

Van die mense wat rondom ons staan is jonk (so oud soos my kinders) en hulle juig luidkeels wanneer Elandrè of Dirk van der Westhuizen optree, hierdie kinders weet nie eers wie die oorspronklike kunstenaars van liedjies was nie, maar sing nogtans heerlik saam.

Die erekunstenaar is Anton Goosen, want hierdie tipe shows kies mos elke jaar iemand om te vereer.  Nou ja, ek onthou nog vir Anton as ‘n jong kusnstenaar en hy is nou oud en grys.  Selfs die ander klomp wys ook maar hulle ouderdom, wanneer mens hulle van naby sien, is die plooie baie duidelik.  Hulle is ook nie meer die wat skud en skop nie, los dit eerder vir die dansers en die jonger garde oor.

Sondag-oggend kan ek nie roer uit die bed nie.  My kuite maak krampe en my arms kan my ook nie lig van die bed af nie.  My keel is hees en my kop seer van 4 biere, verder ruik my klere asof ek in ‘n shebeen geslaap het.  Volgende jaar koop ek die dvd en neurie net saam en wieg so effens in my eie sitkamer.

(Nuwe) boererate

Omdat ek nie juis met boererate groot geword het nie, weet ek nie hoe kasterolie proe nie, ken ek nie die stink-lap of die knoffel teen die lyf nie.  Naaste wat ek daaraan gekom het is die Chamberlain’s koliek, en dan ook net op ‘n groot lepel suiker.  My ma het wel so konkoksie aangemaak met pepermentdruppels en heuning, vir die hoes, maar ek weet nie wat die resep is nie, so ek kan dit nie hier vir iemand vertel nie.

Wat ek wel van ken, is die Vuisboek boererate, daai 5 minute crafts wat gereeld opkom wanneer iemand dit deel.  Die gewildste van die bestandele is:

  • Geaktiveerde steenkool
  • Kokosneut-olie
  • Gel van die blaar van die Aalwyn plant

Geaktiveerde steenkool is nie dieselfde goed as daai braaipakke nie, dit word gemaak deur koolstofryk material soos hout , kokosneut-doppe of saagsels tot baie hoë temperature te verhoog.  Die “aktiverings” proses veroorsaak dat die steenkool se vorige geabsorbeerde molekules weggebrand word, wat die verbindings ooplaat.  Gebruike sluit in:

  1. Verbeterde nierfunksie
  2. Oormatige interne gasse
  3. Waterfiltrasie
  4. Diaree
  5. Witmaak van tande en mond-higiëne
  6. Velsorg
  7. Deodorant
  8. Vel-infeksies
  9. Noodgeval behandeling van oordosisse

Lees meer hier: https://www.medicalnewstoday.com/articles/322609.php

Kokosneut-olie word gesien as ‘n super-kos a.g.v. die unieke kombinasie van vetsure.  Gebruike:

  1. Medisinaal – Voordelig vir die brein, word ondersoek vir die behandeling van Alzheimer’s, epilepsie ens.
  2. Gesondheid
  3. Vet verbranding
  4. Doodmaak van skadelike mikro-organismes
  5. Eetlusdemper
  6. Verminder stuipe (seizures)
  7. Verhoog goeie cholesterol
  8. Velsorg, haarsorg en mond-higiëne
  9. Verbeter breinfunksie
  10. Help om vet te verloor

Lees meer hier: https://www.healthline.com/nutrition/top-10-evidence-based-health-benefits-of-coconut-oil#section10

hqdefault

Aalwyn gel – Die sappige binnekant van die aalwynplant, word gebruik vir die volgende:

  1. Tande en tandvleis
  2. Hardlywigheid
  3. Voetswere spesifiek deur diabetes veroorsaak
  4. Anti-oksidant
  5. Beskerming teen UV-strale
  6. Beskerm die vel teen skade tydens bestraling
  7. Verlaag depressie, verbeter geheue en leervermoë
  8. Behandel brandwonde
  9. Verminder haarverlies

Lees meer hier: https://www.medicalnewstoday.com/articles/265800.php

15bcc0bfb30cef6f17f7ced83de1b7b7maxresdefault (3)

Laas Sondag het ons so entjie gaan ry, ek het nog altyd gewonder hoe ek by die aalwyn-plante, wat so vrylik op die heuwel skuins voor ons groei, gaan kom.  Grim gaan wys my toe ‘n trou lokaal (Nee ons het nie planne nie) en daar staan ‘n lekker groot aalwyn.  Ek het toe maar 2 van die onderste blare afgesny en geplant.  Ek sal fotos pos van my swart gesig (meng die aalwyn en die steenkool vir effektiwiteit), terwyl ek my mond spoel met kokosneut-olie.

Ons InLinkz-skakel vir hierdie week se uitdaging: https://fresh.inlinkz.com/p/a15eea70c3c04529ac417a1a919ae994
Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings

 

 

Wie is ek?

Elke keer wanneer ek vir Grim sê dat hy “weird” is, sê hy dat hy perfek is, dan vra ek hom “Volgens wie se standaarde?” En elke keer antwoord hy: “My eie, natuurlik, dis mos al wat saakmaak.” Nou ja, dan is elkeen van ons mos perfek. G’n wonder my vorige blog, is so geniet deur almal nie. Nadat Maljan beskryf het, dat hy soos ‘n ui is en Hester wat nie in ‘n boks wil wees nie en almal wat so eerlik was oor hulle lewens, moes ek dan ook seker ‘n ernstige blog skryf.

Ek is oud, maar jonk van gees, kan kliphard huil en uit my maag uit lag. Ek kan vreeslik luiddrugtig wees as ek jou ken, maar sal doodstil bly totdat ek weet of jy vriend of vyand is. In my jonger dae, het ek altyd net wit of swart gesien, reg of verkeerd, maar soos die jare aangestap het, het ek geleer dat daar baie verskillende gryse is. Nog steeds sal ek opstaan vir wat ek glo reg is, maar ten minste kan ek nou iemand anders se punt ook insien.

Ek is ‘n Christen, maar behoort nie op die stadium aan ‘n kerk nie. Lank lank gelede was ek ‘n ouderling in ‘n kerk, maar vandag voel dit asof daar net oor geld gepreek word en mense met vroom gesigte in die kerk op ‘n Sondag, is skurke op ‘n Maandag. Nee dankie, dan sorg ek liewerste dat ek eerder goed doen as kwaad, eerder omgee as haat en bly weg uit die kerk.

Ek is ook ‘n ander mens by die werk as by die huis, moes leer om my man te staan in die konstruksie-industrie, by die werk moet alles 100% reg wees en mense wat lyf wegsteek irriteer my grensloos. Hulle weet dit ook, want ek sal hulle dit reguit vertel. In dieselfde asem moet ek sê dat ek nie skroom om iemand wat ‘n taak goed gedoen het, te prys nie. En ek gee nie om om te help nie, did net wanneer ander mense dink dat ek nou sommer permanent hulle werk moet doen, dat my bloed kook.

Daar is nie veel dinge wat my so opgewonde maak, soos verandering nie. Ek is lief vir nuwe take aanpak, veral as dit iets is waar ek moet dink. Sodra dit egter ‘n herhalende ding word, wil ek my hare uit my kop trek van verveling. Admin is vir seker nie my sterk punt nie, ek haat filing met ‘n passie. Kaste regpak, by die huis, maak my moeg nog voor ek begin het. Stokperdjies wat ek al gedoen het, sluit in mosaic, lapverf, meubels restoureer, naaldwerk en en en.

Ek is ‘n maklike mens, gemaklik tussen ander, miskien omdat ek gemaklik is omtrent myself, maar ek is ‘n moeilike mens wanneer jy my kinders, vriende of familie aanvat. Hartseer en geluk het beide al oor my pad gekom. Ek kies gewoonlik om die positiewe te soek, selfs in moeilike tye en as daar nou regtig niks positiefs is nie, sal ek die les soek wat geleer moes word.

‘n Onlangse kompliment, het ek Sondag by jongste kleinkind se doop gekry. Pastoor sê oor die mikrofoon dat Alzinè vandag gedoop word en dat die sexy ouma dan ook hier sal wees. Ek het lekker gelag vir Grim se uitdrukking toe my skoonsus dit vertel. Uiterlike skoonheid beteken nie vir my veel nie, dis veel belangriker dat mense my sal onthou vir die goed wat ek vir hulle gedoen het.

Perfek? Nee, nie eers naby nie, maar perfek volgens my eie standaarde.

Hier is die Inlinkz-skakel vir die uitdaging wat vandag om 12:00 pm open: https://fresh.inlinkz.com/p/6061e1ded6fa403bb328f7fe5decfe6d

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Lê jou eier – Wie is ek

Ek kon nie help nie, sal later ‘n ordentlike blog skryf, vir nou:

Hier is die Inlinkz-skakel vir die uitdaging wat vandag om 12:00 pm open: https://fresh.inlinkz.com/p/6061e1ded6fa403bb328f7fe5decfe6d

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

 

Bali

Die eerste dag toe ek daar aankom, sê ek vir Una, as ek vir Bali moet beskryf met een woord, sal dit seker “oorweldigend” wees, die natuurskoon, die malle kleure, die verkeer-chaos. Maar na die 10 dae, sal ek dit eerder doen met die woord “blymoedig”

Meeste van die mense daar het baie min, amper niks, maar hulle is so dankbaar vir elke klein dingetjie wat hulle wel het. Nog nooit het ek mense beleef wat so vriendelik is nie. Die verkeer is absolute chaos, met scooters wat van bane verwissel, motors wat toet en baie min verkeerstekens of robotte, maar nie een keer het ek ‘n ongeluk gesien nie. Nie een keer het iemand eers kwaad gelyk terwyl hulle bestuur nie, net glimlagte en ‘n vinnige tongklap wanneer iemand voor een van ons drywers inry.

Elke plek waar ons kom, groet die mense ons met ‘n glimlag en daar is net niks wat vir hulle te veel moeite is nie. Winkel-eienaars roep jou nader met “Skuse me, skuse me, come see” en wanneer jy die eerste persoon is vir die dag om iets te koop, hoor jy “For good luck” uit hulle monde.

Na ‘n rukkie begin ek ook so optree, weg is die allewige frons, glimlag vir almal, groet met ‘n lied in my hart die oggend en elke mens op my pad. Die Bali mense is nie vreeslik luiddrugtig nie, ons klompie Suid-Afrikaners het natuurlik kliphard gesels en gelag, sommer so uit ons maag uit. Daar in Ubud, waar ons in ‘n boutique hotel gebly het, moes Una ons gereeld vermaan om te sjuut, ander mense gaan soontoe om te mediteer en te joga. Natuurlik het ons net vir 2 minute sagter gepraat en gelag, sy moes later maar moed opgee en saam luiddrugtig wees.

Ag, hierdie trip het regtig my lewe reeds verander. Daar is net hierdie innerlike smile in my hart, wat oorspoel na my gesig. Dis asof niks en niemand my kan kwaad kry nie. Ek wil teruggaan Bali toe en sal maklik vir ewig daar gaan bly.

Wyan was een van die mense wat ons die meeste geniet het. Natuurlik ken hy vir Una al vir jare, so hy het elkeen van ons sommer onmiddelik in sy hart ingelaat. Menige kere het hy ons verbaas met sy vlymskerp humorsin en sy sê-goed. Die dag toe Una haar rus-dag van ons klompie neem en ons alleen saam met Wyan stuur, vertel hy vir ons dat hy ook musiek maak in sy af-tyd. Met die tempels en feesvieringe wat rondom die hotel gebeur het, was ek minder opgewonde oor sy musiek-vernuf. Toe die ander klomp in die winkeltjie lank vat, het Wyan die geleentheid gebruik om op die xilofoon te speel. Hier is die video: