So ruk terug het Woordnoot geskryf oor een van hulle pasiënte wat op 75 vir die eerste keer oorsee gaan toer, nou ja, sy het van my ma gepraat. Vir ‘n hele jaar lank is daar omtrent net brood geëet, sodat die geldjies vir die toer betaal kan word, daar is vir elkeen vertel van die toer en uitgesien na die toer. Iemand anders (ek) moes al die mislike admin goeters doen, soos visa aansoeke en dokumente print en tasse drie keer oorpak sodat genoeg spasie gelaat kan word vir ietsie wat gekoop gaan word.
Laas Sondag reël ek toe dat die 3 kleinkinders, wat die kant is, almal ietsie saam gaan eet net voor ouma lughawe toe gery word. By ORT aangekom, stop ons op die drop en go, maar ek spring vinnig in saam met ma, net om seker te maak sy is ok en vind haar toergroep. A27 is die terminaal, maar dis niemandsland, o gonna, het ons die datum verkeerd, of die tyd? Ma kyk op haar foon en kry die whatsapp dat die terminaal nou B76 is. Terminaal B is vrek ver, so al die bagasie word terug gelaai in die kar en ons probeer weer. Daar aangekom kan ek sien my ma is nou erg op haar senuwees, so ek kyk vinnig rond en sien nie enige clampers nie, so spring by terminaal B ook in, wys haastig dat my ma na regs moet gaan soek vir 76 en druk en hardloop. Buite gekom…… is my kar geclamp (na letterlik 2 minute) en die perd wil niks weet nie, beduie net ek moet na die kantoor gaan om versagting te gaan vra. 20 minute later kom ek by kantoor aan, waar die teller my beduie dat hulle ook niks vir my kan doen nie, ek moet R2000 kontant betaal of ‘n supervisor loop soek. Terug by die kar kry ek die oorspronklike clamper weer in die hande en beduie dat ek my 75jarige ma gehelp het, hy moet vir supervisor kry. Na ‘n lang gestoei om my ma se paspoort bladsy in die hande te kry, wat wys dat sy wel 75 is, laat hulle my gaan. Dis ‘n uur wat ek nooit weer gaan terugkry nie. Die geluk – Ek moes mooi “Yes, madam, no madam”, ek kon nie baklei nie (wat my natuurlike reaksie is), ek het geleer dat ek wel in staat is om trane te laat loop on demand.
My ma kry darem weer wifi ‘n dag later (Maandag) en laat weet dat alles lekker is en goed gaan.
Woensdag bars die bom, die toer-admin bel en sê dat my ma geval het op die boot, dis nou op die heel eerste dag op die boot, sy het haar voet seergemaak, moontlik gebreek en is in die hospitaal, hulle gaan haar huis toe stuur. Later die middag vind ons uit dat die voet darem nie gebreek is nie, maar sy kan nie loop nie, so gaan nog steeds huis toe gestuur word. My ma bel my op whatsapp: “My kind, het jy gehoor (tranedal)” “Ja ma, kalmeer asseblief, ek kan nie hoor wat ma sê nie…….”, nog trane. “My kind, ek is nou hier by die hospitaal en hulle wil my nie ontslaan voordat ek hulle nie R7 000 betaal nie.” “OK ma, betaal hulle dan” “Maar my kind, ek het nie genoeg geld nie”, “Ma het R13 000 gehad, hoe bedoel ma?” Nou ja, so tussen die trane deur sê my ma glad nie waar die geld heen is nie, net dat ek ‘n plan moet maak. Ek whatsapp die toer-admin, wat toe nou mooi verduidelik dat my ma eers moet betaal voor sy dit van die reis-versekering kan terug-eis. Ek verduidelik vir haar dat ek nie by dieselfde bank as my ma is nie, so selfs al betaal ek op onmiddelike betaling, gaan dit nie dadelik wys nie, gelukkig kon sy toe ‘n plan maak. Natuurlik het die boot teen daardie tyd reeds verder gevaar met die ander toergangers en kon sy reël dat my ma vir die aand in ‘n ander kliniek opgeneem word, voordat sy Donderdag-aand sou terugvlieg. Die geluk – Dankie tog vir ‘n toer admin wat kan reëlings tref.
Ek verduidelik vir my ma dat sy op die lughawe moet vra dat hulle haar help om wifi te kry, sodat ons net kan weet dat sy op vlug1 is en dat sy wel op vlug2 ook uitgekom het. Onthou sy is alleen, sonder toergroep en in ‘n rolstoel. Vanoggend kyk ek na my whatsapp, die stilte is oorverdowend.
So klim ek in my kar om haar by die lughawe te gaan haal, sonder om te weet of sy wel op die vlug is. Die vlug het skaars geland, was nog besig om te taxi, toe bel ek en kry haar, dankie hemel in die hande. 1.5 Ure later het sy darem haar tas en laai ek haar in die kar met ‘n moerse gesukkel. Halfpad huis toe hou sy uiteindelik op met huil lank genoeg sodat ek haar kan verstaan. “Ma, wat het ma met al ma se geld gedoen? Hoe sou ma vir ‘n hele 8 dae verder kon oorleef sonder geld?”, “My kind ek wou nie sê nie, maar daar was hierdie pragtige swart leerjas in Turkye, ek vra toe die man en hy sê 200 dollar. Toe ek terugkom by die wifi, sien ek dit was 500 dollar”, “Hemel ma, kon ma nie die jas gaan teruggee nie?, “Nee my kind, ons het nie weer daarlangs gegaan nie.” (Die word gesê met ‘n baie apologetiese gesig). Nou ja, wat sê mens, my ma gaan daai R10 000 jas elke dag winter of somer moet dra om R10 000 se waarde te kry. Ek het so gelag dat ek amper die kar omgegooi het. Die geluk – Die jas gaan ‘n erfstuk word en dis beter om te lag as om te huil oor gedane sake.