Weer 21

So vra my boetie vanoggend of ek vandag 70 is, my antwoord, nee 70 – 49, so dus 21. Alweer 21. Lekker. Aan die begin van my grootmens-lewe met sterre in my oë en ‘n huppel in my stap. Vandag op 21 gaan ek gevra word om te trou. Ek gaan sjampanje drink en ‘n sleutel kry. Daarna gaan ons in ‘n piepklein staatshuis bly met pers kombuiskaste. Daar gaan ek leer om doeke te was met my hand, want ons kan nie papierdoeke bekostig nie. Ons gaan net een blou Toyota karretjie hê om mee te ry en die wêreld gaan maklik wees. Later gaan ons ons eerste huis koop en in verwondering staan oor hoe groot die tuin is, twee dogtertjies gaan uit hierdie huis hulle eerste skooldag beleef. My man werk by die gevangenis en ek by DairyBelle, so ek leer my kinders om te sê, pa is in die tronk en ma is die koei, wanneer iemand vra watse werk hulle ouers doen.

Nog later gaan my man se krieket-afrigter een dag vir my vra om vir hom my CV te gee en ons gaan Lichtenburg toe trek. Daar gaan ons vir 2 jaar bly en ek gaan my MBA klaarmaak met 2 baie klein kinders gaan dit nogal moeilik gaan.

Na 2 jaar gaan ons Gauteng toe trek en die twee dogtertjies en hulle ma gaan leer hoe om elke Saterdag mall toe te gaan. Vir die eerste keer in my lewe kan ek koop wat ek wil in ‘n wye verskeidenheid winkels.

Fast forward nog ‘n paar jaar en ek bly nou in ‘n ander huis saam met ‘n nuwe man. Die kinders is een klaar met skool, die ander in matriek. Die tyd swoep verby.

Nog ‘n paar ekstra plooie en rolletjies en nou bly ek op ‘n plot, tussen bokke en hoenders en werk van die huis af, na ‘n virus wat die wêreld verander het.

Hoe sal ek lyk oor nog 21 jaar wanneer ek regtig 70 is? Wie weet. Vandag het ek net vandag en ek is 21 met 28 jaar se rente. Dankbaar vir waar ek is en vir wie ek is. Dankbaar vir die verjaarsdag boodskappe en mal oor die eerste oproep vanoggend waar 2 klein dogtertjies met deurmekaar hare vir hulle ouma Happy Birthday sing.

Almal het een

Die Goue Vroue hou ‘n Abba partytjie in Rebusfontein (jy kan almal se stories hier lees) en skielik word ek midde-in Abba-mania gedompel. Dit klink my almal het ‘n storie wat met ‘n gunsteling Abba liedjie gepaardgaan. Ek is gebore in dieselfde jaar as wat Abba ontstaan het en teen die tyd wat die groep uitmekaar gespat het, was ek net 10 jaar oud, so ek het nie die Abba storie gevolg soos menige ander tieners wat Abba-mal was nie. In die laat tagtigs was hulle liedjies minder gewild tussen tieners wat eerder Madonna, A-HA en Wham geluister het. Om die waarheid te sê toe Erasure Take a chance on me in 1992 vrygestel het, het ek nie eers besef dis ‘n Abba song nie. Ek het dit een aand vir ‘n goeie vriend gesing, wat tot ‘n verhouding en die beindiging van ‘n jarelange vriendskap gelei het.

Selfs voor dit, het ons dogters-groep een aand tydens standerd 8 veldskool Thank you for the music uit volle bors gesing en daarna soos een man aan die tjank gegaan.

Abba het in 1982 na albei pare se egskeidings besluit dat die groep ‘n breuk moes vat, eintlik het hulle gedink dat die groep weer bymekaar sou kom, maar dit het nooit gebeur nie. Hulle het ook gedink dat hulle liedjies vir ‘n jaar of twee nog in die rondte sou wees en daarna vergeet sou word, min het hulle geweet dat vandag amper 50 jaar na die groep se ontstaan, mense nog steeds na hulle sou luister.

Laas Saterdag het ek begin om meer te leer van die groep, van 4 gewone mense met elkeen buitengewone talente. Mense wat amper toevallig bymekaar uitgekom het, wat musiek vir altyd sou verander. Agnetha wat bang was vir vlieg en vir mense, Anne-Frid of Frida wat haar hele lewe deur gedink het sy is nie goed genoeg nie. Benny die begaafde pianis en komponis, wat later erken het dat hy ‘n alkoholis was. Björn het meesterlik woorde by die melodië gesit, maar is beskuldig van geldwassery (later onskuldig bevind).

Ek het die term “Wall of sound” ook geleer, Abba se produsent, Michael Tretow het die tegniek gebruik om die musiek voller te maak, hulle het op ‘n klein begroting moes werk aan die begin en op die manier het dit geklink soos ‘n hele orkes. Die musiek van Abba, die vokale vermoë van die twee vroulike lede asook die kreatiwiteit van die producer het eindelik gelei tot die unieke Abba sound, die klanke wat vir amper almal steeds bybly.

Sedert die Goue Vroue se partytjie steek ‘n Abba liedjie in my kop vas, een van die minder bekendes, ‘n liedjie wat beskryf waar ek nou is:

Take it easy with me, please
Touch me gently like a summer evening breeze
Take your time, make it slow
Andante, Andante
Just let the feeling grow

Make your fingers soft and light
Let your body be the velvet of the night
Touch my soul, you know how
Andante, Andante
Go slowly with me now

En so kom my storie vir vandag tot ‘n einde, maar Abba se musiek leef voort, in my kop en in ons almal se harte.

NS – Gedurende my navorsing het ek my bes probeer om uit te vind hoekom die paartjies geskei is en nooit agter die volle verhaal gekom nie, maar ek het wel op die dokumenter afgekom, die moeite werd om te kyk:

Voulez-vous Déjà vu

Ons is ‘n groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ‘n dorp ontstaan, Rebusfontein. Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.
Hierdie hoofstuk sluit by ‘n menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebus bestaan. Vir ons, en dalk vir jou.
Rebus is ons wegloop-plek, en soms ons wegkruipplek. Maar feite is, Rebus is ONS s’n.
As jy ooit lus is om deel te word, om deel te neem, sê net, en jou droom sal bewaarheid word.Volg skakel https://fresh.inlinkz.com/party/7978d243e406473ca23727d75a9a2a46 om by die Inlinksblad te kom waar al die stories in hierdie reeks gelys word.

Appeltjie druk Sonell se ogies toe, (Sonell is die jongste Goue Vrou), terwyl Pierce Brosnan onderstebo teen die paal afgly. Haar eie kop is skuins gedraai om die woorde op die Speedo beter te kan lees. “Nul, nul, sewe. Geskommel, moenie roer nie”, prewel sy die woorde uit. “Toemaar Piercie, ek belowe ek gaan nêrens”, sê sy. Appeltjie is in vervoering.

Una het vir Pierce aan die hand beet en spring van die landingstrook af, reguit in die water in. Dit maak nie eers saak dat daar nie ‘n see in Rebusfontein bestaan nie, spring gaan hulle spring!

Aalsie bekyk die verhoog wat sy so lank aan gebou het, sy sien haar graad 2 klassie se konsert van voor die aaklige CorounaMouna monster afspeel op die verhoog, van Pierce en sy paal is daar geen teken nie.

Toortsie het dit begin, die terugskrywery, van agter na voor en ook die lyndansery uitgedink. Sy sing Voulez-vous met haar melodiuse stem, oor ek oor. Maar al wat ek hoor is De-ja-vuuuu ah ha. Ek kyk na Trommeltjies, Woordnoot, San, Christa, al die ander, hulle staar in vervoering na Toorts, hoor hulle dit ook?

Seegogga en mnr Krap jive te heerlik op die plaat wat hulle opgesit het, sy het lankal vergeet dat Pierce en Abba hier is, sy wys hulle hoe daar in die sewentiger jare in Suid-Afrika gedans is op Abba musiek.

Tannie Frannie het ‘n gedaante verwisseling ondergaan. Weg is die grys hare, welige bruin krulhare omraam haar pragtige jong gesig, haar groen krimpolien pakkie span stewig om haar fyn lyfie, sy klim in haar Rooi Beetle en wuif vir die Goue Vroue. Ek wonder waarheen sy op pad is?

Groen, dis waar dit begin (geëindig?) het. Groen “medisinale” doopsous, groen krimpolien…… Maar daar was al voorheen groen. Groen kruie in koekies, groen feëtjies, groen gras, groen smarag rokke….. Groen bus wat al die pad terugry tot by ‘n Toweropstal, waar alles begin het.

Waddehel hoor ek ‘n stem uit die verlede. Waddehel inderdaad.

Voulez-vous (Wil jy?) Déjà vu (Alreeds gedroom)

Wil jy weer droom? Rebusfontein is altyd die plek daarvoor.

Trommeltjies moet nou besluit of die Abba partytjie op Rebusfontein rêrig gebeur het of net Déjà vu is van soveel ander goeie tye. En ek? Ek vat nog ‘n happie van daai Undercover Basil Pesto en ‘n slukkie Frangelico, droom weer. Déjà vu?

Verby

Ek is oor dit, absoluut geheel en al en toetentaal oor jou. Hierdie jaarlikse besoeke kan ook nou maar stop hoor. Laas jaar het jy vir my ‘n eksta spesiale verassing gebring en die jaar kan my lyf nie help om te onthou daarvan nie. Jy maak my uitasem, moeg na liggaam en gees en my brein voel asof ‘n dik wolkombers hom versmoor. Van versmoor gepraat, jy kan nou maar gerus die gedurige benoude gevoel wat jy oor my bors bring na iemand anders toe vat.

Ek is klaar met jou, die verhouding is vir ewig verby. Blêrrie griep

Photo by Polina Tankilevitch on Pexels.com

My arme swak hart

My hart klop in my keel waar ek hier sit en skryf. Ons is besig om 12 hoenderhokke te bou want Grim het besluit daar moet groot gegaan word met lê-hoenders en die bousand is klaar. Dit beteken dat ek vanoggend in die H100 moes spring en gaan sand koop. Nou die H100 kan net ‘n ton hanteer agter op die bak, so ek probeer vir die drywer met die groot front-end loader beduie hy moet asseblief net ‘n halwe van ‘n halwe skeppie skep. Natuurik dink hy dat ek beduie “maak vol”. Reeds toe ek by die venstertjie kom om te betaal kom ek agter dat hier ‘n probleem is, die handrem wil nie die bakkie vashou nie, met die gevolg dat ek die kaart en sommer die pin ook vir die ou gee om te betaal.

Ek bekyk die faktuur na die betalery en wraggies 2.5 ton. Toe ek by die venter uithang (met my voet steeds op die briek), kan ek sien die wiele trek plat. Daar is niks anders om te doen as om te ry nie, geen gewilliges met grawe naby om van die sand af te laai nie, so daar trek ons.

Op die teerpad stuur ek ‘n gebed op, “Help my asseblief Vader, tot by die huis”. Wanneer ek die bakkie meer as 40 km/h probeer ry, voel dit asof ek op sneeu ry en gly, ry en gly. Stadig stadig durf ek die 15km aan tot by die huis, teen niks meer as 40 km/h en in 2de rat nie. Die kyke van die ander motoriste skeel my min, want hulle moet op ‘n soliede streep verby my gaan siende dat die hele R511 net een lang streep het. Teen afdraendes stoot die vrag my en moet ek die rem behoorlik trap. Opdraendes gly ons minder, maar daar moet ek terugskakel 1ste rat toe.

Ek is hier en dis al wat tel, met ‘n dankie aan my Hemelse Vader vir die beskerming vandag en ‘n hart wat darem amper weer normaal klop…..totdat ek vir Pierce Brosnan gewaar…My arme swak hart….

Die kern

Mostert na die maal, ek hoor hoe jy dit sê of dalk is dit in my kop? Die uitdaging het laaankal gesluit, vir wat wil jy nou skryf? Vir maande skryf ek niks en dan sommer 2 blogs op een dag. Ek dans mos maar meestal op my eie tune, so sorry neh.

Dit het so begin: Iemand het ‘n foto op ‘n whatsapp groepie gepos van ‘n boek met ‘n gat deur vele bladsye gesny, daarna het daar ‘n uitdaging ontstaan en ‘n klompie bloggers het die bladsye ingevul (jy kan dit hier lees https://fresh.inlinkz.com/party/567e0dbec3284abbacab09e8d73f276e). Wena was weer besig en het die bus gemis maar ek wil tog ‘n storie skryf.

Ek het nog altyd na myself gekyk en die goeters wat verkeerd is, eerder as die goeie raakgesien. Dit kom dalk vanuit my kinderdae met ‘n oor-streng pa wat net perfekte kinders wou hê, of dalk uit my eie kop waar ek ook na perfeksionisme streef. My skoolvriendin stuur ‘n paar maande terug vir my ‘n foto wat sy in haar kas ontdek het, ek moes haar vra wie op die foto is, want ek kon myself nie herken nie. Wanneer in my lewe het ek ooit sulke dun beentjies gehad, vra ek haar. Ek sien myself nog altyd as ‘n pokkeltjie, wat vrek hard moet werk as ek ‘n middel of kuite wil hê.

Vir ander mense is gewig iets maklik, hulle dink dat ek te veel op die uiterlike konsentreer, maar wat hulle nie besef nie is dat wanneer ek sleg voel oor my uiterlike, dit my totale menswees aantas. Ewe skielik wil ek eerder by die huis bly, nie meer mooi aantrek nie en die geringste verwysing na die ekstra rolletjies verander in ‘n volslae skermutseling. Seks word ‘n ding wat so lank as moontlik uitgestel word, met die gevolglike probleme wat dit ook meebring. My knieë en rug is seerder as gewoonlik en ry ons langpad, swel my enkels so dat ek vir 2 dae nie kan loop nie.

Eintlik weet ek wat die depressie wat ek voel teweeg bring, maar ek voel asof ek niks daaraan kan doen nie. Ek weet ek moet oefen en minder eet, maar hoe meer depressief ek raak, hoe meer eet ek en hoe minder kan ek die wilskrag bymekaar skraap om met enige soort oefenplan te begin. Skielik is ek huilerig oor alles en oor niks, ek is glad nie ‘n plesier om mee saam te leef nie.

Skryf oor die probleem help my om dit in die gesig te staar en dalk werk te maak, maar vir nou is die kern van my probleem nog net so groot(vet) soos gister.

Mojo

Deesdae voel alles soos werk, bel my dogter en sê kleinkinders wil kom kuier, werk. Winkels toe gaan, werk. Selfs speel met baba bokke voel soos werk. Werk voel definitief soos werk. Ek kan nie onthou wanneer laas ek werklik gelukkig gevoel het nie, nog minder uit my maag uit gelag het nie. In my kop frons ek heeltyd en die keep op my voorkop raak al hoe dieper. Weet nie hoe om my mojo terug te kry nie. Una is daar plek vir my langs jou?

Wat ek weet

Mens sê so maklik ek weet wat ek weet, waaraan mens nie dink nie is dat jy nie weet wat jy nie weet nie. En dis goed so. As iemand vir my laas jaar sou sê dat die grendeltyd van die beste tye in my lewe sou wees, sou ek dit nooit kon glo nie, maar dit was.

Op 31 Maart bel my baas 7 uur in die oggend, groot probleme. Ons stelsels by die werk het ‘n probleem, amper soos ‘n virus en ons moet afsit, alles afsit. Kan ek vir haar help met ‘n totale hand prosedure. Nou ja ons het planne en planne wanneer een van die stelsels af is, maar ‘n hand-prosedure? Glad nie. In elk geval is die risiko te groot vir diefstal of dat kliente nooit sal betaal nie. Ek vind uit dat daar “Ransomware” op ns stelsel is, dis nou wanneer jy ‘n epos kry dat jy xxx (in dollar) moet betaal om jou eie data terug te kry, met geen waarborg dat die sleutel (key) regtig sal werk nie. Die IT span begin werk om alles wat oor 7 jaar ingesit is, te fynkam en te herbou, hulle en eksterne konsultante werk dag en nag, ons gaan nie betaal nie.

Dit is Donderdag die 1ste April, maand-einde en amper Paasnaweek, ons kanselleer ons planne om by my sussie in Jeffrey’s te gaan kuier. Ek stap by die werk in en kan my oë nie glo nie, oral sit mense, oral lê drade. Elke persoon wat ‘n rekenaar het, moet dit kantoor toe bring, dit word skoongemaak en nuwe sagteware gelaai om te verseker die indringer kan nie verder amok maak nie. Selektief word mense toegelaat op die netwerk, dan ook net direk met ‘n LAN kabel na die nuwe server toe. Van die huis af werk is glad nie ter sprake nie. Ons verkoop steeds niks nie, maar die ontvangs van rou materiale gaan voort, word in ‘n boek geskryf. Ons kan nie bekostig dat die sement-aanleg tot stilstand kom nie, dit beteken ‘n week om weer aan die gang te kry en miljoene rande.

Dit was die eerste keer dat ek bly was dat ons SAP server in Nigerië is en nie geaffekteer is nie. Ons prakseer planne om die transaksies op SAP te krywat gedoen is op die 31ste en ek begin om dit in te sleutel, werk deurnag Vrydag, asook Saterdag. Maand-einde word so hinkepink begin. Ons was amper op die hond se stert, toe besluit Nigerië om SAP af te sit, 4 dae waar die vanlyn prosesse gevolg word, nog ‘n gemors. Dit vat my 2 weke om alles reg in te kry en April maandeinde was nog steeds ‘n gemors. Al die stelsels is ook nog nie 100% werkend nie, so alles vat 2 keer langer as gewoonlik.

So as ek min skryf, moet julle weet dit is nie omdat ek nie wil nie, maar eerder omdat ek nie kan nie. Grim was deur alles ‘n rots en het maar geduldig al die kosmaak pligte oorgeneem, was my skouer wanneer ek te moeg was om eers te huil en my rots vir ‘n hele maand lank, maar tot hy is nou al gatvol.

Om te hoener

Vir die laaste jaar, sedert die inperking begin het, broei ek elke 3 weke ‘n paar kuikens uit. Die broeimasjien het vir so rukkie nie gewerk nie en die laaste klompie eiers wat ek ingesit het, het net glad nie uitgebroei nie. Die vorige bondel het net een enkele kuiken opgelewer.

Met die dat hulle in my kantoor aangehou word, sien ek die kuikens meer as wat ek sou indien die henne hulle self uitgebroei het. Nou die laaste kuiken, of soos ek hom noem – Arme Wesie, is vrek snaaks. Van almal, skree hy die heel hardste, dit kan dalk iets daarmee te doen hê dat ek hom vir ‘n week elke aand teruggesit het in die broeikas vir bietjie hitte. Gewoonlik sal die klomp kuikens in ‘n hoek slaap en mekaar warm hou.

In die laaste tyd het ek al ‘n paar keer amper ‘n hartaanval gekry oor Arme Wesie. Hy sit deur die dag buite in sy hokkie, vir bietjie vars lug en son en ook omdat die gerasery nogal steurend is wanneer ek probeer vergaderings hou. Hoenders lê mos so met hulle voete onder hulle ingetrek, maar nie die een nie, hy skop sy voete skuins langs hom uit en lê op sy sy. Dan dink ek elke keer hy is dood, maar hy spring soos blits op wanneer hy my sien nader stap.

Ek het besluit dat Arme Wesie so snaaks lê omdat hy nie weet joe om te hoener nie, hy het dan nog nooit ‘n ander hoender gesien nie, hoe dan nou anders.

En dit bring my dan by die punt van die blog uit. Hoe gaan mense leer wat is sosiaal aanvaarbaar as hulle nie leer om te mens nie. Die enigste manier om te leer is deur na ander mense te kyk, verkieslik van dieselfde ouderdom en kultuur en dan uit jou eie verwysingsraamwerk te besluit wat is goeie en minder goeie gedrag. Daarna kan jy jouself daaraan meet en sal jou optrede mettertyd verander. Die hele siklus is ook nie ‘n oornag-proses nie, maar word oor jare aangeleer Die probleem is met Covid sien ons nie meer mense nie, ons hou ons kinders weg van ander kinders af en aanvaarbare gedrag het in die afgelope jaar drasties verander.

Ons gaan almal van vooraf moet leer hoe om te hoener.

Arme Wesie is nou 5 weke oud, natuurlik kan ek nie ‘n foto neem van sy sy-lêery nie

Huil en lag

Una het dit begin …

En Woordnoot het aangegaan … en hier gaan ons al weer op ‘n nuwe avontuur!

Woordnoot het met haar kers-verjaardagpartytjie vir ons elkeen ‘n pakkie in die hand gegee en ons saamgenooi na ‘n Learjet wat saggies op Rebusfontein kom land het en ons voor hierdie lieflike kasteel kom neersit het. In ons pakkies was daar vir elkeen ‘n sleutel …

Lees van elke sleutel hier https://fresh.inlinkz.com/party/6640e82546594147b4ef78a3de36e871

Besig, besig besig, altyd te besig, amper mis ek my sitplek op die Learjet, sommer verlore slaap ook ingehaal tydens die vlug. Natuurlik is die gevolg dat ek die hele bus gemis het. Met ‘n pakkie in my hand word ek wakker en die res is weg….nou wat nou? Ek is hopeloos te nuuskierig, so ek maak die pakkie oop, binne in is ‘n sleutel en voor my ‘n kasteel. Dit kan net een ding beteken, die sleutel moet ‘n deur oopsluit.

Die voordeur is reeds oop, hierdie Goue Vroue moes haastig wees, dink ek. Binne gekom sie ek die prag en praal, maar die sleutel in my hand is selfs meer interessant. Een na die ander deur word probeer, maar bly gesluit. Ek luister met my oor teen elkeen, die eerste hoor ek musiek speel, dit klink soos ‘n bal, ek hoor ‘n mansstem iets sê van elke Goue Vrou se sleutel sluit ‘n kamer oop spesiaal vir haar. Die tweede deur se stemme gons, klomp vrouens klink asof hulle gelyk praat, by die derde hoor ek net voëltjies en iemand saggies snork. Die ander deure is stil, hulle stories moet nog vertel word, maar my sleutel eier om hulle oop te sluit. Ek stap verder en verder in die gang af, dalk het die sleutel ‘n vervaltyd en ek het my kans gemis om ‘n deur te kon oopsluit?

Ek stap teen die trap op en heel bo in die toring is daar ‘n deur. Moed opgee is nie een van die goed wat ek sommer doen nie, so ek pas die sleutel in en wraggies die slot knars oop…..

Voor my is ‘n kamer, maar dis dolleeg, daar is niks soos in absoluut niks te siene nie. Nou ja, dis dan nou maar so, die koning het dan sekerlik geweet dat my kamer leeg moes wees en nou moet ek 8 ure hier bly, die deur het sommer vanself toegeswaai. In ‘n hoek sit ek op die grond en die trane kom sommer so vanself (soos dit deesdae meer en meer gebeur) Ek probeer hulle nie eers terughou of afvee nie, hulle plons vet op die grons soos reëndruppels.

Met elke traan wat val, verander die traan in iets. Daar lê fotos van my kinders en kleinkinders, ‘n ou trui wat ek lief om te dra, tot ‘n paar dae ou boklammetjie. Hoe meer ek huil, hoe meer word die kamer vol goed wat ek voor lief is. Ek hou op met huil en ‘n glimlag breek deur. Toe die lammetjie opspring en begin dans, kan ek nie help om hardop te lag nie.

Die vreemsmdste ding gebeur, selfs meer van die goed waarvan ek hou begin verskyn wanneer ek lag. ‘n Paar boeke wat ek nog graag wil lees, die halfvoltooide hekelwerk waarby ek nie uitkom nie, ja tot die werksrekenaar met alles wat al gister gedoen moes wees. En ek lag en lag, skielik het ek die boeke klaar gelees die hekelwerk is klaar en die werk ook. Hier wil ek vir ewig bly, ek kan net lag en lag en goed word gedoen. Die boklammetjie is skielik ‘n sterk lammetjie en die fotos van my kleinkinders het nou tieners op.

Ag nee, hoe lank was ek in die kamer? 8 ure, 8 dae of 8 jaar? Paniekerig kyk ek na die deur, hier moet ek uit, vinnig ook, wie weet wat anderkant die deur wag? Hoeveel jare het verbygegaan terwyl ek huil en lag?