Ek is stil…..

Gewoonlik beteken dit stil en bedonnerd, maar nie die keer nie, nee ek is stil en besig. Eintlik veronderstel om besig te wees met werk, maar min lus vir nog ‘n jaar-einde, nog ‘n keer wat mense nie verstaan dat hulle eintlik nie nog transaksie van laas jaar kan deursneak nie, dit beteken dieselfde goed oor en oor doen.

Desember en November was ek ook stil en toe besig met my nuwe stokperdjie – hekel. Ek dink ek het al die storie van die Unicorn vertel, maar hier kom hy weer. Ek het pas begin hekel en soos ek maar is, natuurlik die mandjies gehekel in al die verskillende steke wat ek op die internet kon vind. Soos dit maar is wanneer mens steke soek, kry mens altyd meer as waarna jy soek, daar het die idee vir ‘n rugsak begin. Ek noem toe vir oudste dogter dat ek vir die kleintjies rugsakkies wil hekel, dis oulik, uniek en bruikbaar. Sy dink dis ‘n goeie idee, maar soos gewoonlik moet sy haar eie idee bylas. “Ma, maak vir M ‘n Unicorn rugsak asseblief”. Ek soek en soek, maar kry nêrens ‘n oulike patroon vir ‘n unicorn rugsak nie, ek kry wel ‘n oulike patroon vir ‘n speelding en ek spring aan die werk.

Jongste dogter se woorde: “Ma, ek is nie so kieskeurig soos sussa nie, ma kan vir my twee net gewone rugsakke hekel”. Ek is ten einde laaste klaar met die grootste unicorn op aarde, toe jongste eendag kom kuier. Na sy die unicorn gesien het, is die storie verander na “Ma kan nie vir M ‘n unicorn maak en vir my twee net rugsakke nie”. Sug. Ek soek toe maar nog patrone en kom op ‘n oulike kat en hond af. Nou gewoonlik word die Arugami speelgoed uit wol gehekel, maar ek het dit met t-shirt wol gedoen. Die gevolg: die speelgoed is 3 keer so groot as wat ander mense s’n is. Ek het ook besluit dat hierdie die kleintjies se kerspersente sal wees.

Voordat ek vir my sus in JBay gaan kuier het, was al drie klaar, hulle moes net aanmekaar gesit word. Ek het terug gekom en een na die ander ding het voorgeval, wat beteken het dat ek Oukers-aand deurnag moes werk om die 3 persente aanmekaar gewerk te kry. Mense dink hekel is moeilik, maar die vaswerk is ‘n heel ander storie Dit was darem klaar gewees Kersdag en kon toegedraai word. Die kat was so groot dat ons 2 rolle papier moes gebruik.

Deesdae kan mens mos kies of jy ‘n 20kg tas wil vat (wat R150 kos per vlug) en of jy net handbagasie wil vat (7kg) wanneer jy vlieg op lae-koste rederye. Natuurlik het ek net handbagasie gevat. Nog nooit het iemand so baie in so klein tassie kon prop nie en 6 bolle wol en hekelpen is ook nog saam. Dit het beteken dat ek uiteindelik iets vir myself kon hekel, my eerste poging met gewone wol. Deesdae kan ek nie meer voor die TV sit, sonder dat my hande besig is nie. Ek dink ek is reg vir die winter.

12 thoughts on “Ek is stil…..

Lewer kommentaar