Geheue straat

Saterdag sit ek op my alie in die huis, besig om gordyne op te hang en dit voel wrintiewaar soos dejavu. Hier was ek mos al gewees? So 20+ jare terug in ons eerste huis besig om gordyne op te hang. Die ding is net ek kan dit nie onthou nie, nou maak ek maar die storie op.

Twee mense, eintlik nog jonk getroud, met 2 klein kindertjies koop hulle eerste huis. Die 4 slaapkamer huis is eintlik te groot vir hulle paar meubels, maar met die hoop van jonkwees en die vertroue in hulleself en die Vader, koop hulle hom nog steeds. Die huis het ‘n anderste gevoel as die huurhuise waaraan hulle gewoond is, ‘n gevoel van luuksheid, ‘n gevoel van tuis kom. Die tuin is vol lieflike groot bome, die swembad is groot en blou en die huis se vertrekke is lekker ruim, ‘n regte leefhuis. Die hele familie help om meubels aan te ry en alhoewel party van die vertrekke nog te leeg is, word orals gordyne gehang. Drome word in die huis gedroom, drome van kinders wat groot word in die platteland, drome van gelukkig wees. Oudste gaan graad een toe in die skool wat net ‘n paar blokke weg is, leeslesse en huiswerk word gedoen en mamma begin hier aan haar MBA studeer.

Dan gebeur die lewe en die jong gesin verhuis na Lichtenburg en daarna selfs verder na Centurion. Die huis word uitverhuur. Eintlik wil ons die huis verkoop, maar dis ons eerste huis, met sentimentele waarde. Nog jare verloop en die kinders is altwee klaar met skool, ondertussen het die drome van gelukkig wees uitmekaar gespat en mamma en pappa is geskei. Mamma kry die huis in die egskeiding en verhuur steeds uit. Sy kom minder en minder daar uit en soos almal weet vêr van jou goed, naby aan jou skade. Op ‘n dag toe nog ‘n stel huurders die huis verder verwoes het, besluit sy om die huis eerder te verkoop.

Daar is egter ‘n groot probleem. Oorkant die huis was die ou inry-teater, later net ‘n stuk veld. Toe mamma haar oë uitvee is die grond geoormerk vir lae-koste behuising. Niemand wil meer in die straat bly nie, die huis staan leeg. Die munisipaliteit in die dorp is heeltemal bankrot, so vullis word nie meer verwyder nie, die oop stuk grond word nou ‘n ashoop. Krag toevoer s problematies en daar is niemand wat gou kan gaan kyk wanneer die alarm nie werk nie a.g.v. geen krag nie.

Oor die langnaweek in September word daar in die huis ingebreek. Kragdrade uit die dak, vensterknippe, krane, alle muurproppe en ligskakelaars word gesteel. Selfs die alarmstelsel word gevat. Mamma moet gou speel om ‘n wag in die hande te kry want die versekering sê daar sal geen dekking wees vir verdere inbrake sonder ‘n alarm of ‘n wag nie.

So het ek toe laas Saterdag gaan gordyne hang vir die tweede keer in my eerste huis, net sodat dit lyk asof daar iemand bly. En gehuil oor verlore drome.

13 thoughts on “Geheue straat

  1. Jy weet, jy is amazing! Dis hoekom ons so lief is vir jou. Hier vanuit jou eie hoek daag jy op ek kom vertel vinnig wat in jou lewe aangaan, en sommer ook wat in die verlede gebeur het. Saam met die interessantste liedjie! Sterkte met al die los drade wat jy bymekaarmaak, vriendin.❤

    Liked by 3 people

    1. Die liedjie: Sondag maak ons gou ‘n draai by die local, daar sing ‘n ou, hy het die liedjie geskryf en natuurlik soos altyd, het green green grass of home Saterdag deur my kop gedwaal

      Like

  2. Ai Positief……na alles…na alles is jy nog steeds positief….ons sterk vriendin. Ek huil saam met jou….en dan jive ek ook sommer saam op daai song….😢

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s