Helemal

Glad is ek nie seker waarom ‘n mooi liedjie deesdae trane in my oë sit nie. Vanoggend in die malse verkeer in die gietende reën, was dit weer so. Dalk is dit omdat ek nooit gedink het liefde verby verlief, was vir my beskore nie en ek is dankbaar vir hierdie liefde. Perfek? Nee glad nie, maar daar is nie so ding nie, was nog nooit nie. Ridder op wit perd, ook nie, maar ek besef elke dag meer, dat dit ook nie bestaan nie. Beste wat daar is, is twee mense wat die lekker en die minder goeie wil deel, wat beter is saam as sonder, wat mekaar wil hê ten spyte en miskien juis met foute. Trane van dankbaarheid, dis wat ‘n mooi liedjie in my oë sit.

Hier is daai liedjie en nog beter gemaak deur ‘n oulike nuwe kind-sanger met ‘n mooi stem. Vêr van mooi, is hy, maar dis nie nodig om mooi te wees om mooi te sing nie, is dit?

Hippie bleeksiel

Ek weet, ek weet – nie twee woorde wat dikwels saam gebruik word nie. “Hippy” se vertaling is hippie in Afrikaans en “nerd” is ‘n bleeksiel. Hippie meestal ‘n jong persoon wat onkonvensioneel dink en aantrek, eksentriek word meer aan ouer (soos ek) mense toegedeel. Probleem is dat ek in my kop glad nie oud is nie, so ek sal eerder aan myself as hippie dink as eksentriek. Bleeksiel is meestal ‘n skaam persoon met sy neus in die boeke of besig om iets op ‘n rekenaar te doen.

Hippie was ek nog altyd in my hart en in my kleredrag en haarstyle, telwyl my rigting (BComm) van my ‘n bleeksiel moet maak. Wie het al ooit gehoor van ‘n rekenmeester met blou of pienk hare, ‘n poefbroek wat met almal land en sand gesels?

Aan die dilemma tussen hart en brein, moes ek seker gedink het in standerd 7 of 8, toe ek moes vakkeuses maak, of na matriek toe ek moes besluit wat om te studeer, maar nee, ek het veel eerder gedink daaraan dat ‘n BCom my ‘n beter kans op ‘n hoër salaris gaan gee as tale wat ek aansienlik meer geniet het. Wie dink tog aan sulke goed op skool? Nadat ek klaar syudeer het, het dit ook nie alte lank gevat om werk te kry nie, maar tot vandag wonder ek. Ek is nie ondankbaar nie en geniet my werk, maar die kontras tussen my hart en brein is lewensgroot. Seker diè dat ek die blog so geniet, die plotlewe omhels en al ewig ‘n nuwe craft vind om myself uit te leef.

Na die laaaang aanloop, ‘n vinnige storie: M is ‘n self-erkende bleeksiel en ‘n introvert. Hy het ook ander basiese reëls as ek. Onlangs is ons in Stellenbosch vir sy seun se gradeplegtigheid. Dag 1 daar gaan ons in dorp toe. Daar is soos gewoonlik geen parkering in enige van die strate nie, so ons parkeer in die mall en stap die paar blokke na die restaurant waar M wil kyk na die spyskaart voor hy vir ons almal bespreek. Ons is daar weg en halfpad oor die volgende straat, haak my sandaal vas en die riempie tussen my tone breek mors af. Daar is letterlik niks anders om te doen as om altwee skoene uit te trek en kaalvoet verder te stap nie. Kaalvoet deur die strate van Stellenbosch stap ek heel tevrede aan, my voete raak bietjie vuil, maar verder pla dit my nie te erg nie.

Laas Vrydag toe ek my hippie hempie aantrek om my bleeksiel werk te gaan doen, tref dit my eers. Die arme man, heeltyd het hy my hand vasgehou, maar eintlik het hy hom dood geskaam vir die kaalvoetklonkie, maar nie een keer het hy my hand gelos nie. Soms dink ek die dualiteit van my frustreer hom, ander kere dink ek dit fassineer hom.

NS – ML is blykbaar slang vir Male lead, maar ek dink ‘n rekenmeester is net so moeilik om te kry

Wanneer dit goed gaan..

Skryf ek minder, want ek het ook al lankal besef dat ek ‘n bietjie van ‘n drama koningin is en so bietjie smartvraat ook. Lekker giggel ek vir myself.

In elk geval , ek luister graag na potgooie (podcasts) en geniet School of Greatness – Lewis Howes nogal. Hy praat met ‘n wye veskeidenheid gaste en die tema is self-verbetering, wat altyd interessante onderwerpe oplewer. Finansiële gurus, top atlete, diëetkundiges, beraders ens, maak deel uit van die gaste. Meer as 1500 episodes en meer as 150 miljoen aflaaie, dien as genoeg bewys dat hierdie definitief top aan my lys is en moet wees.

Weer in elk geval. Vanoggend luister ek na ‘n episode wat (weer) vir my baie sin maak. Die gas is dr Joe Dispenza en die tema “Transform your mind for lasting love & magnetic relationships” Baie van die goed wat hy sê, weet ek eintlik, maar dis altyd goed om weer daaraan herriner te word. Goed soos positiewe denke her-programmeer jou brein om negatiewe goed te verminder. Maak ‘n lys van alles wat jy in ‘n maat wil hê en wees/word daai goed. Dis nogal een wat makliker gesê as gedoen is, dink maar so daaraan, ek wil graag iemand hê wat mooi met my praat, maar is geneig om kortaf en ongeduldig te wees en dit skemer telkemale deur in my aksies en hoe ek met mense praat.

‘n Ding wat my besonder tref is die volgende: elke keer wanneer jy dink aan iets wat in die verlede gebeur het, dink jy nie net daaraan nie, jou lyf beleef die gebeurtenis asof dit besig is om huidiglik te gebeur. Wanneer jy heeltyd besig is om die gebeure te herleef, kan jou brein en lyf nie op die hede en veral nie op geluk fokus nie, so jy is besig om jou brein te leer om heeltyd van balans af te wees. Jou brein kan nie onderskei tussen ‘n onthou van ‘n trauma en die nou nie. Dit is nodig om te herprogrammeer. Dit is ook nodig om die gedagte te herken en doelbewus vir jou brein te sê dit is in die verlede, dis hoe ons daarmee “gedeal” het en dis verby.

Ek besef dat ‘n spesifieke dag in my verlede wat herhaaldelik opkom Nuwejaarsdag 2016 is, die dag toe dit geclick het dat X gay is. Die verskriklike trauma daarvan bly nog steeds deur my brein spoel en ek kan die ontsetting elke keer in my lyf voel. Ek het daarmee vrede gemaak, lankal, maar steeds dink ek daaraan. Ek kan regtig nie sê hoekom dit so is nie, want ek voel asof dit verby is. Ek sou graag vir X wou vra of hy die hele tyd geweet het en my doelbewus mislei het, of was dit dat hyself nie 100% seker was nie en dit onderdruk het. Siende dat ons lankal geen kontak het nie, kan ek nie vra nie. So dalk is dit net omdat daar nog vrae is. Hoe maak ek die boek toe? Ek het geen idee nie.

Wat ek wel weet is dat solank as wat die gedagte opkom, ek amper nie kan glo dat dinge goed gaan nie, asof ek net wag dat iets moet skeefloop. En dis nog ‘n ding wat die man sê, gedagtes het energie, die energie is soos ‘n magneetveld om jou. Solank as wat jy negatiewe gedagtes het, trek jy negatiewe goed na jou toe aan. Hoeveel keer het ek dit al gesien, dis asof dit met party mense net sleg gaan. Hoe slegter dit gaan, hoe meer goed loop skeef. Natuurlik andersom ook, met party mense lyk dit asof die voorspoed hulle verveel. Graag wil ek in die 2de kategorie val.

Positief bo!!

Skeefgeknoopte knopery

Terwyl Seegogga besig is om duisende knope uit te sorteer vir ‘n prent wat sy met  knope moet maak, kom die skoknuus: Daar is ‘n lyk ontdek in ‘n gastehuis in die Overberg.
Natuurlik gryp die Goue Vroue hierdie geleentheid aan. So ‘n storie moet ontknoop word!

Hierdie is die sewende deel van ‘n nuwe avontuur vir die Goue Vroue. Om hierdie vervolgverhaal te volg, klik hier.

Petrus, hy is die link tot die ontknoping, maar die arme kind is so deurmekaar geskrik, hy kan skaars praat. Hy kyk die goue vroue aan met groot oë, maar sy mond bly stom. “Knopies, knopies, knopies“, sê Toortsie mooi stadig, maar steeds bly die kind stom. Ons video-call maar weer vir Una, sy sal met Fifi moet probeer praat om agter die kap van die byl te kom, maar natuurlik is die sein alweer so swak dat ons maar net ‘n boodskap kan stuur en dan moet wag.

Tannie Frannie is ook nog besig om toue te ontknoop en te herknoop in Bredasdorp saam met haar nuwe vriend, kaptein Gigaba. Hulle moet ook natuurlik nog ‘n paar knope bymekaarmaak sodat Seegogga haar prent betyds kan klaarmaak, maar dit geniet nou tweede prioriteit. Kaptein Gigaba het darem vir tannie Frannie vertel dat die dna bevestig het dat die vermoorde man met die rooi skoene definitief nie die bendeleier is nie. Dit is verder bevestig deur Bennie Griessel en Vaughn Cupido, hulle het boodskappe van die bendeleier ontvang op die donkerweb nadat die lyk gevind is, nogal met die spesiale kode-woord ter bevestiging dat die boodskappe gestuur is deur die ware leier.

Die boodskappe lui as volg:

Oppad deur die wildtuin, vrees vir my lewe. Kan nie verdere besonderhede verskaf nie.”

Petrus het ontsnap, hy is erens in die wildtuin. Ten minste is ek nou veilig”

Ek gaan na die eiland toe, die skatkis is daar weggesteek. Alles is verlore, net die goud kan die blouknope nou red. Maak gereed om die land te verlaat, sodra ek die goudstawe het, kom ek julle haal.”

Ons kyk na mekaar, die ontknoopte knope is nog vaster geknoop, maak nie saak hoeveel knope ons oplos nie, die knopery raak al hoe meer kraaines.

Woordnoot, kan jy asseblief die knoop deurhak.

Waar gaan die knopies prent eindig? ‘n Prinses? ‘n Padda? ‘n Bendeleier?

Vas 2

Laas week se sukses het my laat besluit om die vas-ding weer te doen, die keer van Maandag tot Woensdag, siende dat M Woensdag-aand kom kuier. Ek soek spesifiek op die internet na ‘n studie oor vas, nadat my dogter gesê het dat ek gaan siek word, ek kry die studie.

Kort opsomming: Die studie is goed gedokumenteerd en bevat opsommings sowel as rou data van al die maatstawwe. Die vas se effek op sowel klinies (objektiewe) meetbare sowel as subjektiewe uitkomste word aangedui. Al die deelnemers aan die vas het gewig verloor, beter bloeddruk getoon, terwyl die newe-effekte gering was.

Dag 1 (26/02/2024) – Ek weet beter wat om te verwag. Daar is vandag ‘n baba-tee vir een van my kollegas, ek gaan soontoe, maar eet nie van die versnapperinge nie.

Dag 2 (27/02/2024) – Soos laas week is die honger omtrent weg en my brein is helder.

Dag 3 (28/02/2024) – Deur die dag eet ek nie, maar ek en M gaan uit en ek eet wel ‘n bietjie groente en ‘n stukkie pizza.

Dag 4 (29/02/2024) – Ek ry deur Lichtenburg toe, eet nie deur die dag nie, maar eet wel normaal in die aand en vir die res van die naweek

Ek weeg myself Sondag-aand en sien dat ek die week in totaal 1 kg ligter weeg as laas week, so in totaal het ek nou 3.2kg verloor. Ek voel beter en dis asof ek eerste die rolle om my maag verloor. Voorheen was dit eerder boobs wat eerste verloor is.

Vas 3

Hierdie week was moeilik, ek was nog besig met maandeinde, ek het semi-permanent hoofpyn gehad en ek was moeg. Maandag en Dinsdag het ek deur die dag gevas, maar in die aande geëet. Woensdag het ek liederlik oortree, sommer ‘n hele pak chips kafgedraf. As daar nou een ding is wat ek moet leer is dit om “sagter” met myself te wees. So what as die week nie lekker uitgewerk het nie, volgende week begin ons net weer. Aanhouer wen.

Ten minste is ek nou amptelik 2 weke rookvry en ek het geen gewig opgetel nie.

Ek deel ‘n lekker liedjie, sommer net. Lekker naweek

NS – Hoor jy die liedjie wat ge “sample” word?

Vas 1

Ek het besluit om my journey neer te skryf wat verband hou met my besluit om te vas, aan een kant omdat ek graag daarna sal wil terugverwys, aan die ander kant help dit dalk iemand anders.

My geskiedenis met kos en oorgewig: Ek kan nie ‘n tyd onthou wanneer ek nie gedink het ek is vet nie. Waar dit spesifiek vandaan kom weet ek nie, want ek kan nie onthou dat ek ooit uit iemand se mond gehoor het dat ek vet is nie, maar dis hoe dit is. Ek het nog altyd geglo ek is vet. Wanneer ek vandag terugkyk na fotos, kan ek duidelik sien dat daar stadiums in my lewe was, waar ek eerder te maer was, maar wanneer ek in die spieël kyk, sien ek net rolle en vetgeit. Die probleem met hierdie persepsie is dat ek nie net die vet raaksien nie, ek verwyt myself oor die vet en raak siels-ongelukkig daaroor. Meer nog as dit, ek voel asof ek alle beheer oor my lewe verloor wanneer ek nie beheer het oor my lyf nie. Kits-diëte, pille, absoluut alles het ek al probeer, wat dan ook veroorsaak dat my metabolisme regtig nie great is nie.

Ek luister na ‘n podcast, daar word bespreek dat vas (om glad nie te eet nie) ‘n oplossing vir vetsug is, meer as dit, vas is gesond vir jou. My eerste reaksie is: Hoe kan mens net nie eet nie, dit klink net nie reg nie en amper onmoontlik om reg te kry. My volgende reaksie: Ek gaan dit probeer. Ek luister daarna na die opvolg podcast en besluit dieselfde dag om vas te probeer.

Dag 1 (20/02/24)- Ek is in elk geval nie ‘n groot eter van 3 maaltye ‘n dag nie, so wanneer ek by die werk is, is dit maklik om te vergeet van kos. Vannaand by die huis is egter heeltemal ‘n ander storie. Eet soos rook doen ek wanneer ek verveeld is, of vir myself jammer voel. Ek is ook meer geneig om te eet wanneer ek moeg is. Ek wil ophou rook op 22/02 en kan wragtig nie weer 7kg optel nie. Ek bly sterk en eet niks, drink omtrent 4 liter water.

Dag 2 (21/02/2024)- Ek drink my koppie swart koffie, want niemand kan sonder koffie regkom nie (lol) en gaan werk toe. Weer is dit nie vir my moeilik om nie te eet deur die dag nie. Ek kom die middag by die huis, gaan stap met die honde en voel goed. Ek is nie honger nie, so ek eet nie.

Dag 3 (22/02/2024) – Vandag hou ek op met rook, ek drink my swart koffie by die huis, maar drink ook ‘n cappucino by die werk. Daai masjien is my dood en ek mis die cappucino meer as enige kos. Ek gaan lees op oor die definisie van ‘n water-vas, jy mag nie meer as 50kj inkry nie, so tegnies het die melk nou my vas gebreek, so be it. My brein voel gefokus en dit voel asof ek enige-iets kan vermag. Ek het verwag om tam en moeg te wees, maar ek voel 100% teenoorgesteld van dit. Ek kom by die huis en vat weer die honde vir hulle stappie. Ek besluit om klein bietjie joghurt te eet, my 3 dae is in elk geval verby.

Dag 4 (23/02/2024) – My maag werk soos gewoonlik, ek het verwag dat ek hardlywig sou wees, maar glad nie. Die kleinkinders kom vannaand kuier, so ek gaan normaal saam met hulle eet. Ek weeg myself en het 3kg verloor

Gevolgtrekking – Ek voel asof ek beheer oor my lyf terug gekry het, die mees verbasendste is dat daar geen negatiewe effekte is wat ek kan raaksien nie. Ek het bietjie gewig verloor, die dieet is maklik (ek hoef nie te wonder wat ek mag en nie mag eet nie, ek eet niks), dis verniet en verbasend maklik om vol te hou. Nadat ek weer normaal begin eet het, het ek steeds 2 van die 3 kg afgehou. Ek is die meeste verbaas oor die skielike brein-fokus, dit was totaal onverwags.

Opvang

Dinge was al weer te besig. Ek weet ek wil skryf, eintlik elke dag, maar ek kom nie daarby uit nie. Vakansie, jaar-einde, werk, kinders en en. Ek mis om te skryf. So nou skryf ek ‘n vinnige opvang en dan gaan ek skryf, ten minste een keer ‘n week.

Dinge gaan goed met my. 3 Weke weg in Desember was heerlik, maar is lankal weer amper vergete. Dit gaan ook goed met my en M, amper 5 maande saam en ons voel meer soos ou skoene as in week 1 toe hy dit die eerste keer gesê het. Laas naweek was die 1ste naweek in die 5 maande wat ons nie bymekaar was nie en ek kan nie wag om hom Woensdag te sien nie.

Ek kan nie onthou of ek voorheen geskryf het oor die inbraak in die Klerksdorp huis nie, maar in elk geval, laas Junie (actually op dieselfde dag wat ek en Grim finaal opgebreek het) is daar ingebreek en die huis is totaal verwoes. Sedertdien is die versekerings-eis afgekeur en my finansies gaan bietjie broekskeur. Dis nogal moeilik vir my om uitgawes te beperk, maar op die stadium sien ek dit as ‘n back to reality check. Kom terug uit by die werklikheid, geld (soos alles) moet oordeelkundig aangewend word.

Ek probeer weer om op te hou rook, my laaste sigaret was 22/02/2024, het so bietjie opgeslip hier en daar, maar dit gaan ok-erig met die ophou rook. Hopelik gaan dit langtermyn nie weer panic-attacks beteken nie, maar ek dink my kop is beter die keer. Dis dag 4 vandag.

Laas Maandag het ek na ‘n podcast geluister oor fasting, intermittent fasting (IF) en periodieke fasting (PF). Ek het dit probeer en het vir 3 dae niks geëet nie, op dag 4 net joghurt en groente en normale kos op dag 5, 6 en 7. Ek het gedurende die 3 dae 3kg verloor, waarvan 2kg afgebly het. Ek het besluit om my journey neer te skryf in my blog, dalk is iemand geïnteresseerd. Ek sal links na die podcast en navorsing pos.

Kersfees kom vroeg die jaar

Besig, besig, besig is omtrent die enigste woorde om 2023 mee te beskryf, maar ook soveel veranderinge, goed en sleg in een jaar saamgevat. Geen wonder dat ek so uitsien na 3 weke se salige verlof nie, van vandag af.

In die 3 weke beplan ek om ten minste ‘n paar blogs elke dag te lees en dalk so een of twee te skryf. Ek beplan om rustig op die meent in Rebus te sit en met my kosbare mede-inwoners te gesels, te lag en heerlik te eet (en drink). My kossies wat ek inpak sal meer uit snacks as enige-iets anders bestaan, heerlike biltong, droë-wors, chippies, lekker dip, soet koeksisters, klein kers-pasteitjies, vrugtekoek-happies met harde versiering op, kaaspoffers, lemon meringue en nog vele meer. Rebusfontein beteken ons mag eet wat ons wil, sonder om gewig op te tel.

Drinkgoed sluit in verfrissende Kersfees cocktails. Vir resepte, kyk hier

Na al die eet- en drinkgoed is daar nie plek vir regte oopmaak geskenke nie, so vir elkeen in Rebus en wat my blog lees, bring ek wense van geluk, liefde, vrede, vreugde en seën vir Kersfees en sommer vir 2024 ook.

Cheers op ‘n vroeë, maar ewigdurende Kersfees.

Anders

Die week in Mosambiek was lekker, maar alles was anders. Shongili voel nie meer soos die stukkie aarde waar ek my hart verloor het nie, dis nog steeds vir my mooi, maar die keer het die hitte my gepla, voorheen het ek glad nie omgegee nie. Una en Bertus het soveel moeite gedoen, maar tog voel ek eerder soos een van hulle gaste as ‘n vriend wat kom kuier het. Ergste is, dis glad nie hulle skuld nie, dis ek. Ek voel anders.

‘n Deel hiervan is die besef dat my droom om eendag in Moz te kan bly nie meer so maklik kan gebeur nie. Grim bly net ‘n hanetree van Shongili af en dit maak dit moeilik om daai droom enigsins te kan bewaarheid. Ek sien nie kans om op ‘n ander plek in Moz, sonder vriende, te bly nie. So dalk was die droom maar eintlik meer omdat ek Una mis as iets anders.

Natuurlik was die nuwe man in my lewe ook saam en dit het bygedra tot die “Moz deur ander oë sien”, sindroom. Hy het al baie meer as ek na verskillende lande en plekke gereis en Moz is vir hom ‘n vakansie-opsie, nie êrens waar hy sal wil bly nie. Dat hy saam was, het natuurlik ook die hele ervaring anders gemaak as vantevore.

Die andersgeit van alles is vir my anders